Nuus 06:00
BULLETIN 27 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye word aangemoedig om by die verkiesingskedule te hou
# AfriForum sê sy haatspraaksaak teen Julius Malema het goed begin
# En, die VN-hoof waarsku ‘n aanval op Rafah sal katastrofies wees
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie moedig politieke partye aan om by die skedule vir die verkiesing op 29 Mei te hou. Die OVK het klagtes verwerp van Arise SA en beklemtoon daar is goed oor die proses kommunikeer, met die handtekening-insamelingsportaal wat van Januarie af oop was. Nomsa Masuku van die kommissie beklemtoon voldoening aan die skedule en onderstreep sleutel-benoeming- en -betalingsdatums. Met die kieserslys wat gesluit het, gaan die OVK nou voort met kieser-bevestiging, en herbevestig sy gereedheid vir die verkiesing.
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, moet teen volgende week inligting verskaf oor die Sekretaris van die Parlement se salaris. Dit volg ná berigte dat sy Xolile George se salaris eensydig met 70-persent verhoog het sonder om politieke partye in te lig. Die Parlement se Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte het Mapisa-Nqakula gevra om teen Maandag skriftelike verduidelikings te verskaf. Die salaris is aanvanklik vir 2,6-miljoen-rand per jaar geadverteer, terwyl George vroeër meer as vyf-miljoen-rand verdien het as uitvoerende hoof van die Plaaslike Regeringsvereniging.
# ‘n Professor aan die Noordwes-Universiteit en linguistiek-kenner, Karien van den Berg, het in die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se haatspraaksaak teen die EFF-leier Julius Malema getuig. Die saak het gister in die Gelykheidshof in Kaapstad begin en hou verband met Malema se opmerkings by die party se nasionale vergadering in die Wes-Kaap in Oktober 2020. AfriForum se woordvoerder, Ernst van Zyl, sê hy stem saam met die kommissie dat Malema se opmerkings op haatspraak neerkom en geweld aanhits:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê daar is geen verband tussen twee mans wat in Eswatini in hegtenis geneem is en die moord op die kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes en sy vriend, Tebello ‘Tibs’ Motsoane, nie. Die broers van Durban sal uitgelewer word om tereg te staan op aanklagte van moord en poging to moord in ‘n saak waar ‘n passasier verlede jaar in Berea doodgeskiet is. Volgens Mkhwanazi is Forbes en Motsoane se saak ingewikkeld, en verwikkelings sal op die gepaste tyd oorgedra word:
# Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het gewaarsku dat ‘n volskaalse Israeliese offensief op Rafah die einde kan beteken van VN-gedrewe humanitêre hulp aan die mense van Gaza. Humanitêre hulp aan Gaza is in Februarie met 50-persent verminder vergeleke met Januarie, as gevolg van struikelblokke soos die gereelde sluiting van deurgange en gevaarlike omstandighede weens voortdurende militêre operasies. Guterres het gister aan die VN se Menseregteraad in Genève gesê die pad na vrede begin met volledige respek vir alle menseregte:
# Rugby: Die voormalige Springbok-hulpafrigter Matt Proudfoot keer terug huis toe. Hy is die nuwe afrigter van die Luiperds, met hulle hoofkwartier in Potchefstroom, Noordwes, net om die hoek van sy geboortedorp, Klerksdorp. Proudfoot het van 1998 tot 2003 vir Skotland gespeel voordat hy afrigter was by die Universiteit van Noordwes, Westelike Provinsie, die Stormers en Kobelco Steelers in Japan. Hy was van 2016 tot na 2019 se Wêreldbekertoernooi betrokke by die Springbokke, en het hom toe aangesluit by Engeland se afrigtingspan voor ‘n tydperk by die Namibiese nasionale span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-30-sent teen die dollar, 20-rand-94-sent teen die euro en 24-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-747-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-32-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….