Nuus 06:00
BULLETIN 26 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA, EFF en IVP betuig hul medelye na die dood van nege ANC-lede
# Eskom stel fase 2- en 3-beurtkrag in tot verdere kennisgewing
# En, die SAPD weerlê bewerings dat Bheki Cele ‘n amptelike helikopter in sy persoonlike hoedanigheid gebruik het
# Politieke partye het meegevoel betuig ná die dood van nege ANC-lede gisteroggend in ‘n ongeluk. Hulle was op pad terug na Mpumalanga na die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes in Durban, toe die bus waarin hulle passasiers was naby Dumbe, Paulpietersburg, in die noorde van KwaZulu-Natal omgeslaan het. Die DA sê hy hoop diegene wat deur die tragedie geraak is, sal vertroosting en solidariteit vind. Die EFF sê dis belangrik om in die verkiesingstydperk empatie te toon, terwyl die IVP sê dié tragedie is ’n herinnering aan dit wat mense in hartseer tye verenig.
# Eskom sê hy kon oor die naweek genoeg noodreserwes aanvul, om beurtkrag hierdie week af te skaal. Fase twee word tans tot vieruur vanmiddag toegepas, gevolg deur fase drie tot môreoggend vyfuur. Hierdie patroon sal tot verdere kennisgewing van krag wees. Die kragvoorsiener sê hy verwag om teen Woensdag weer ‘n totaal van vier-duisend-170 megawatt aan opwekkingskapasiteit aanlyn te bring.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het bewerings weerlê dat minister Bheki Cele ‘n amptelike helikopter vir sy persoonlike gebruik aangewend het, by die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes. Die DA eis dat Cele persoonlik moet betaal vir die gebruik van die SAPD-helikopter, en sê dit was ‘n duidelike misbruik van staatshulpbronne. Die nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe, sê die helikopter is soos vir enige groot byeenkoms, by die ANC-geleentheid ontplooi om die groot skare te monitor, en Cele het dit amptelik as minister van Polisie gebruik.
# ‘n Agt-en-dertigjarige man is gister gearresteer nadat hy volgens berigte sy vrou, kinders en ʼn gesinsvriend gyselaar gehou en drie polisiebeamptes geskiet het by ʼn huis Klopperpark in Bedfordview, oos van Johannesburg. ʼn Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê hulle het ʼn klagte ontvang dat ʼn man sy vrou en kinders gyselaar hou. Hy sê toe die polisie by die huis aankom, het die verdagte skote op hulle afgevuur en ook die gesinsvriend geskiet:
# President Cyril Ramaphosa sê hy sal altyd met deernis die broederliefde van Namibië se ontslape president Hage Geingob onthou. Ramaphosa was een van die 25 staatshoofde en voormalige presidente, wat Geingob se begrafnis gister bygewoon het. Hy is op die vierde van die maand in die hospitaal dood terwyl hy vir kanker behandel is. Ramaphosa sê hy vind steeds inspirasie in die toewyding waarmee Geingob sy werk gedoen het, sy onbesproke verbintenis tot die welstand van sy mense, en sy strewe na ‘n vreedsame, verenigde en ontwikkelende Afrika.
# Krieket: Indië was teen uitskeityd op dag drie van die vierde toets teen Engeland in Ranchi op 40 sonder verlies, en het nog 152 lopies nodig om die reeks te beklink. Die gasheer het die dag hervat op 219 vir sewe in hul eerste beurt, met Dhruv Jurel wat 90 behaal het. Die Engelse draaibalbouler Shoaib Bashir het vir die eerste keer in sy toetsloopbaan vyf paaltjies platgetrek en gehelp om Indië vir 307 uit te boul, wat die besoekers ‘n voorsprong van 46 gegee het. Engeland is egter in hul tweede beurt vir 145 uitgeboul. Bashir glo hulle kan steeds die wedstryd wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-90-sent teen die euro en 24-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-504-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….