Nuus 06:00
BULLETIN 23 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nuwe kiesers word aangemoedig om voor die einde van die dag te registreer
# Judges Matter vra ‘n spoedige proses om geregtelike wangedragsake te hanteer
# En, die Verenigde Nasies VN se Menseregte-hoof betreur die skrikwekkende menslike koste van die oorlog tussen Oekraïne en Rusland
# Kiesers wat vir die eerste keer stem het tot die einde van vandag tyd om te registreer op die portaal van die Onafhanklike Verkiesingskommissie of by hulle plaaslike kantore. Die stemdatum van 29 Mei, soos aangekondig deur president Cyril Ramaphosa, sal na verwagting teen middernag in die Staatskoerant verskyn. Die OVK se ondervoorsitter, Janet Love, beklemtoon die belangrikheid dat kiesers wat kwalifiseer, hulle demokratiese reg moet uitoefen:
# Judges Matter doen ‘n beroep op die Regterlike Dienskommissie om geregtelike wangedragsake te versnel. Die Parlement het ten gunste van die verwydering van die Wes-Kaapse Regter-president John Hlophe en afgetrede regter Nkola Motata gestem, nadat hulle albei aan growwe geregtelike wangedrag skuldig bevind is. Judges Matter sê die tyd wat dit geduur het om die Hlophe- en Motata-sake af te handel, toon dat die wangedragproses misluk. Die organisasie voeg by dat wysigings aan die Wet op die Regterlike Dienskommissie die beregting van klagtes kan bespoedig.
# Die EFF in Gauteng sê hy is geskok oor premier Panyaza Lesufi se plan om 18 privaat hospitale te koop vir die Nasionale Gesondheidsversekeringplan. Hulle voer aan dit bewys ‘n gebrek aan begrip van die fundamentele beginsels van die NGV. Die party is gekant teen die uitkontraktering van gesondheidsorg aan die privaat sektor. Naledi Chirwa van die EFF maan teen agterdeur-ooreenkomste met gesondheidsorggeriewe wat ineenstort. Sy staan die nasionalisering voor van alle strategiese sektore, wat privaat gesondheidsorg, vir ‘n volhoubare eenvlak-gesondheidsorgstelsel, insluit:
# Die Congress of the People in die Oos-Kaap sê premier Oscar Mabuyane se Provinsiale Rede was teleurstellend, wat bewys die huidige politieke en administratiewe leierskap is onbevoeg. Die premier het sy toespraak gister gelewer te midde van ‘n verbysterende werkloosheidsyfer van 47,1-persent. Cope sê ná 30 jaar van wanregering is die provinsie steeds die armste in Suid-Afrika met 67-persent van sy mense wat in armoede leef. Die party sê hy gaan ‘n massamobiliseringsprogram begin om die ANC in die provinsie te onttroon.
# Die Verenigde Nasies se Menseregte-hoof, Volker Türk, sê Rusland se volskaalse gewapende aanval op Oekraïne veroorsaak steeds ernstige en wydverspreide menseregteskendings, wat lewens en lewensbestaan vernietig. In sy jongste verslag het die VN se Menseregtemoniteringssending in die Oekraïne 30-duisend-457 burgerlike ongevalle sedert Februarie 2022 bevestig. Türk vra dat alle menseregteskendings en oortredings van internasionale wette in Rusland en Oekraïne deeglik en onafhanklik ondersoek word, ten einde aanspreeklikheid en skadevergoeding aan slagoffers verseker.
# Rugby: Die Bulle hoop Loftus sal stampvol wees wanneer die Stormers Pretoria volgende naweek besoek vir ‘n Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd. Die gashere wil die grootste aantal toeskouers in die VRK buite die uitspeelwedstryde lok. TimesLIVE berig meer as 20-duisend van die beskikbare 50-duisend kaartjies is reeds verkoop. Die Bulle se bemarkingsbestuurder, Shanil Mangaroo, sê daar is groot belangstelling in die tradisionele noord-suid-derby, wat as die mees betwiste tweestryd in die land beskou word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-465-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-25-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….