Nuus 06:00
BULLETIN 22 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom stel fase 4-beurtkrag in werking weens die verlies van opwekkingseenhede
# Die Parlement stem om regters Hlophe en Motata aan te kla
# En, die Inkatha Vryheidsparty noem die begroting ‘n politieke foefie
# Eskom sê fase vier-beurtkrag het vanoggend om vieruur tot verdere kennisgewing in werking getree. Dit is weens die verlies van vyf opwekkingseenhede by die Kendal-kragstasie en nog een by die Duvha-kragstasie in Mpumalanga. Die kragvoorsiener sê hy sal die kragstelsel noukeurig dophou en kommunikeer indien daar enige beduidende veranderinge aan die netwerk is.
# Die Nasionale Vergadering het ten gunste van ampsklagte teen die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe en afgetrede regter Nkola Motata gestem. Hulle word daarmee die eerste regters wat in ‘n demokratiese Suid-Afrika uit hulle ampte onthef word. Die Regterlike Dienskommissie het albei aan growwe wangedrag skuldig bevind. Hlophe is skuldig bevind dat hy in 2008 probeer het om twee regters van die Konstitusionele Hof te oortuig om ten gunste van destydse president Jacob Zuma te beslis. Motata is in 2009 skuldig bevind aan dronkbestuur. Die finale besluit oor hulle verwydering berus nou by president Cyril Ramaphosa.
# Die adjunk-president van die IVP, Inkosi Buthelezi, noem die begrotingsrede ‘n politieke foefie voor die verkiesing. Hy het teleurstelling uitgespreek oor die ekonomie se afwaartse neiging en die onderprestasie van verskeie departemente, ondanks fondstoekennings. Buthelezi is bekommerd oor die regering se voorneme om 150-miljard-rand van die Goud en Buitelandse Valuta-gebeurlikheidsreserwe-rekening te gebruik weens laer-as-verwagte groei, en ‘n inkomste-tekort:
Cosatu sê intussen dit is ‘n flou begroting en slaag nie daarin om doeltreffend aandag te gee aan Suid-Afrika se ekonomiese uitdagings nie. Hulle ondersteun die vrystelling van 150-miljard-rand uit die reserwes, en dring aan op die strategiese gebruik van hierdie fondse om kritieke instellings soos Eskom en Transnet bestendig te kry. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, vra ook vinniger optrede rondom vervoeruitdagings. Hy spreek kommer uit oor die gebrek aan planne vir sukkelende ondernemings in staatsbesit en die verslegtende toestand van plaaslike regering:
# Ses Russiese tronkbestuurders sal nie toegelaat word om na Brittanje te reis nie, en hulle bates in die land is bevries na die dood van die opposisieleier, Alexander Navalny. Hy is verlede week dood in ‘n Arktiese tronk, met die Verenigde Koninkryk wat die Russiese owerhede die skuld gee, insluitend president Vladimir Putin. Die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron, sê dié wat aanspreeklik was vir Navalny se wrede behandeling moet nie twyfel dat hulle verantwoordbaar gehou sal word nie. Amerika sal ook na verwagting môre sanksies teen Rusland aankondig.
# Krieket: Engeland se onderkaptein, Ollie Pope, sê die kanse is goed dat kaptein Ben Stokes sal boul in die vierde toets teen Indië wat môre in Ranchi begin. Stokes het sedert die tweede toets om die As teen Australië in Julie nog nie weer geboul nie en het in November ‘n knie-operasie ondergaan. Hy het gister in die nette geboul en Pope sê hulle sal sien hoe hy voel. Indië is 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde nadat hulle Engeland verneder het in die derde toets in Rajkot, wat hulle met ‘n enorme 434-lopies gewen het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-241-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-26-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….