Nuus 06:00
BULLETIN 25 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris sê die polisie is ten volle voorbereid vir volgende week
# Frankryk bevestig sy eerste Ebola-geval by ‘n dokter wat van die DRK terugkeer
# En krieket: Die Protea-vroue pak Nederland vanaand in ‘n belangrike Wêreldbeker-kragmeting
# Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê hulle is vasbeslote dat Suid-Afrika nooit weer die vlakke van vernietiging, vrees en onbestendigheid moet ervaar wat tydens die betogings in Julie 2021 gesien is nie. Dit kom terwyl die polisie voorberei vir beplande betogings teen buitelanders op 30 Junie. Dimpane het gister met die privaat sekuriteitsbedryf vergader om verhoudings te versterk ter ondersteuning van openbare veiligheid, misdaadvoorkoming en die handhawing van wet en orde. Sy sê die privaat sekuriteitsbedryf is ‘n kritieke vennoot in die handhawing van stabiliteit:
# Die Vryheidsfront Plus sê die jongste verslag deur die ouditeur-generaal toon ernstige finansiële wanbestuur en korrupsie in baie munisipaliteite. Volgens die 2024/2025-verslag is meer as die helfte van munisipaliteite tegnies bankrot, met baie wat voortdurende kontantvloeiprobleme ondervind en onbefondsde begrotings goedkeur. Die party het ook verwys na die miljarde wat verlore gegaan het deur onreëlmatige uitgawes en infrastruktuurmislukkings. Michal Groenewald van die party sê die bevindinge weerspieël sistemiese bestuursmislukkings onder ANC-geleide munisipaliteite:
# Die Madlanga-kommissie het bevestig dat die omstrede Noordwes-sakeman, Suleiman Carrim, nie soos geskeduleer vandag voor die kommissie sal verskyn nie. Dit is weens swak gesondheid. Vroeër die maand was hy medies ongeskik om te getuig, wat daartoe gelei het dat sy verskyning herskeduleer is. Carrim is na bewering in April in die hospitaal opgeneem nadat hy ‘n hartaanval gehad het. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, sê ten spyte van hierdie verwikkeling sal hul werk voortgaan:
# Die Wes-Kaapse regering het, in vennootskap met Go George, ‘n werksoeker-reiskoeponprogram in George van stapel gestuur wat daarop gemik is om werklose inwoners te help om toegang tot werksgeleenthede te verkry. Die inisiatief bied gratis busvervoer vir mense wat onderhoude bywoon, CV’s indien en werk soek. Die program, wat sedert 2024 reeds meer as 24-duisend mense in Kaapstad gehelp het, is bedoel om vervoerhindernisse te verwyder en toegang tot werksgeleenthede vir werklose inwoners in die gebied te verbeter.
# Frankryk het sy eerste Ebola-geval bevestig wat gekoppel word aan die uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo. ‘n Dokter wat van ‘n humanitêre sending in die DRK teruggekeer het, het positief getoets vir die virus. Frankryk se ministerie van Gesondheid sê die pasiënt is in afsondering en in ‘n bestendige toestand. Owerhede spoor die pasiënt se kontakte op, wat vir 21 dae afgesonder sal word. Die ministerie sê die risiko vir die bevolking is baie laag en ‘n toegewyde moniteringstelsel is opgestel vir hulpwerkers wat uit die DRK terugkeer.
# Krieket: Die Protea-vroue speel vanaand teen Nederland in ‘n T20 Wêreldbeker-groepwedstryd in Bristol, Engeland, en is steeds op koers vir ‘n plek in die halfeindronde. Suid-Afrika het vinnig reggekom ná die nederlaag teen Australië en dit opgevolg met oorwinnings oor Pakistan en Indië. Die vroue speel hul laaste groepwedstryd teen Bangladesj. Die Proteas is tans derde in die groep na Australië en Indië, maar Indië moet nog teen die sterk span van Australië speel. Slegs die top-twee spanne in elke groep dring deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-820-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….