Nuus 06:00
BULLETIN 23 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Weermag is op bystand geplaas vir die betogings op 30 Junie
# Die regering verlig die spanning oor 500 Malawiese burgers wat in Johannesburg woon
# En rugby: Siphosethu Mnebelele is die nuwe Junior Bok-kaptein
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê sy is tevrede dat die nodige koördineringsmeganismes in die Justisie-, Misdaadvoorkoming- en Sekuriteitsgroep in plek is om vinnig en doeltreffend te reageer op enige gebeurlikheid tydens die teen-immigrasie-betogings volgende week. Teen-immigrantegroepe het 30 Junie as die sperdatum gestel vir ongedokumenteerde buitelandse burgers om Suid-Afrika te verlaat. Motshekga sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is as ‘n gebeurlikheidsmaatreël op bystand geplaas:
Die regering doen intussen ‘n beroep op mense om kalm te bly nadat nagenoeg 500 Malawiese burgers tydelik in ‘n kerk in Newlands in Johannesburg gehuisves is. Dit volg na hul verskuiwing uit Kaapstad as deel van ‘n gekoördineerde vrywillige terugkeerproses wat deur die Malawiese ambassade gereël is. Die adjunkregeringswoordvoerder William Baloyi sê die situasie word wettig en menslik behartig en vra die publiek om nie met die proses in te meng nie:
# Die Madlanga-kommissie het getuienis aangehoor oor ‘n beweerde kokaïentransaksie waarby die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala en sy medewerker, Medicare24 se uitvoerende hoof Mike van Wyk, betrokke was. Getuienis wat aan die kommissie voorgelê is, het WhatsApp-boodskappe en ‘n video ingesluit wat glo wys hoe vermoedelik kokaïen geweeg word, met besprekings wat verwys na pryse en hoeveelhede. Hoofgetuienisleier Matthew Chaskalson het aan die kommissie gesê die forensiese ontleding het soortgelyke gekonfiskeerde stowwe met kokaïen verbind:
# Die Landbank doen ‘n beroep op dringende optrede om struikelblokke te verwyder wat jongmense verhinder om die landbou te betree, aangesien die sektor steeds onderbenut word met werkskepping en ekonomiese insluiting. Die bank sê die hoë jeugwerkloosheid en beperkte toegang tot grond, finansiering, vaardighede en mentorskap verhoed steeds baie aspirant jong boere om te begin. Die bank se waarnemende uitvoerende hoof, Jabu Mphambo, sê die sektor het sterk potensiaal om werk te skep en jeugwerkloosheid te help verminder.
# Rugby: Siphosethu Mnebelele sal die Junior Springbokke by die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië aanvoer nadat slot Riley Norton in die senior Bok-groep vir die Nasieskampioenskap ingesluit is. Norton word vervang deur veelsydige voorspeler Thomas Beling, terwyl vleuel Cheslin Jooste in die plek van Vusi Moyo gekies is, wat ook vir senior diens opgeroep is. Akahluwa Boqwana vervang vleuel Zekhetelo Siyaya, wat tydens Saterdag se wedstryd tussen Suid-Afrika A en Zimbabwe beseer is. Die afrigter van die Junior Bokke, Kevin Foote, sê Norton en Moyo verdien beslis hul geleenthede.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-14-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Die legendariese musiekmagnaat Clive Davis is op 94 oorlede. Die voormalige hoof van Colombia and Arista Records, bekend as “die man met die goue ore”, is Maandag in sy huis in Manhattan dood. Davis se 50 jaar lange loopbaan het hom met van die grootste name in die musiekbedryf laat werk, insluitend Bruce Springsteen, Aretha Franklin, Whitney Houston, Billy Joel en Alicia Keys. Sy familie sê hy sal onthou word as ‘n uitstaande leier wie se invloed musiek vir altyd verander het, asook die man wat sy familie met deernis gelei het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….