Nuus 06:00
BULLETIN 19 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra landsburgers om die naweek vir die verkiesing te registreer
# ‘n Toergids is gearresteer in verband met die dood van ‘n Kanadese toeris in die Krugerwildtuin
# En Sokker: Teboho Mokoena se strafskop besorg Bafana Bafana ‘n welverdiende punt
# President Cyril Ramaphosa sê daadwerklike burgerlike deelname is noodsaaklik om demokrasie te versterk. Hy het gepraat tydens die bekendstelling van die Mylpale van Vryheid-veldtog by die Uniegebou in Tshwane. Ramaphosa het Suid-Afrikaners aangespoor om ‘n aktiewe rol in die openbare lewe te speel deur te stem, by gemeenskapsinisiatiewe aan te sluit en deel te neem aan die nasionale dialoogproses. Hy het landsburgers ook aangemoedig om die naweek te registreer om te stem in die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November:
# Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het berigte verwerp dat die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, gearresteer is. Dit volg na vroeëre mediaberigte dat hy in hegtenis geneem is en by ‘n polisiekantoor in Pretoria verwerk is. Die woordvoerder van die eenheid, Henry Mamothame, sê die inligting is foutief en het die publiek versoek om die bewerings te ignoreer:
# ‘n Agt-en-dertigjarige privaat toergids is in hegtenis geneem nadat ‘n 69-jarige Kanadese toeris in die Krugerwildtuin in Mpumalanga doogeskiet is. Die voorval het Woensdagaand by ‘n konsessie- braai- en piekniekplek naby die Phabeni-hek plaasgevind. Polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, sê ‘n manlike toeris het die verdagte, wat ‘n geweer vasgehou het, genader en gevra of dit ‘n regte geweer is:
# Iran se president, Masoud Pezeshkian, het die memorandum van ooreenkoms met die VSA, as ‘n geskiedkundige dokument beskryf en sê dit was die gevolg van nasionale veerkragtigheid, politieke redelikheid en verantwoordelike diplomasie. Die 14-punt dokument sit die bepalings uiteen vir ‘n verlengde skietstilstand, die heropening van die Straat van Hormoes, en ‘n verbintenis tot verdere gesprekke om ‘n finale ooreenkoms binne 60 dae te bereik. Pezeshkian sê die dokument is die weerspieëling van die stem van ‘n nasie wat nie sy waardigheid en onafhanklikheid vir enige bedreiging of druk verruil het nie.
# Sokker: Bafana Bafana het weer hoop om vir die Wêreldbeker-uitklopfase te kwalifiseer, nadat hulle 1-elk gelykop gespeel het teen Tsjeggië in Atlanta. Teboho Mokoena het in die 83ste met ‘n strafskop geslaag om Michal Sadilek se vroeë doel vir die Tsjegge te troef, en beide spanne hul eerste punt in Groep A te gee. Suid-Afrika het verlede week met 2-0 teen mede-gasheer Mexiko in hul openingswedstryd verloor. Hugo Broos se manne sal nou alles in die stryd moet werp in hul derde en laaste groepwedstryd teen Suid-Korea.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-208-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaap is weer onder die wêreld se voorste universiteite geplaas. In die jongste QS World University Rankings is die universiteit in die 296ste plek wêreldwyd, teenoor posisie 302 verlede jaar, en is derde in Suid-Afrika en Afrika. Maties word ook beskou as een van die top 2,2-persent van instellings wêreldwyd in die Centre for World University Rankings. Die universiteit se adjunk-visekanselier, Sibusiso Moyo, sê die verbetering is te danke aan sterker prestasie op gebiede soos navorsing, reputasie en internasionale samewerking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….