Nuus 06:00
BULLETIN 8 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê openbare vertroue in die polisie kan nie gebou word tensy korrupsie uitgeroei word nie
# Die EFF betwis die Ampsklagkomitee se besluit om Madonsela se aanbeveling as bewysleier te herroep
# En krieket: Gerald Coetzee keer terug na die Proteas se eendagspan
# President Cyril Ramaphosa sê die beweerde infiltrasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens deur misdadigers en gevestigde belangegroepe, ondersteun deur korrupte lede, kan nie toegelaat word om die diens te definieer nie. In sy weeklikse nuusbrief sê hy daar is duisende polisiebeamptes wat die land eerlik en moedig dien. Ramaphosa sê die regering kan nie openbare vertroue in die polisie bou tensy korrupsie uitgeroei word nie. Hy sê misdaad kan nie verslaan word tensy die polisie die vertroue en samewerking van die publiek het nie.
# Die EFF het ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die besluit van die parlementêre Ampsklagkomitee om die benoeming van advokaat Thandazani Madonsela as sy getuienisleier te herroep, te hersien en tersyde te stel. President Cyril Ramaphosa het beswaar gemaak teen die aanstelling en moontlike belangebotsings uitgelig nadat Madonsela voorheen die ANC met raad bedien het oor regskwessies rakende die ampsklagproses. Agtien komiteelede het gestem om Madonsela se aanstelling te herroep, terwyl nege daarteen gestem het. Die EFF voer aan die ANC het deur die besluit die proses misbruik.
# AfriForum beplan om Eskom se voorgestelde gemiddelde elektrisiteitstariefverhoging van ongeveer 8,8-persent vir 2027/2028 teen te staan. Die organisasie gaan formele besware by die energiereguleerder, Nersa, indien, en sê verbruikers moenie vir onnodige of ondoeltreffende koste betaal nie. Morné Mostert van AfriForum sê verbruikers sukkel reeds met stygende lewenskoste en hoë elektrisiteitspryse, terwyl ondernemings die voorgestelde verhoging kan bekostig:
# Die DA sê voortdurende kragonderbrekings in Johannesburg plaas huishoudings en ondernemings onder druk. Volgens die party het sommige gebiede, insluitend die Johannesburgse middestad, Lombardy, Kew en Gresswold, onderbrekings van etlike dae verduur. Hy blameer swak bestuur, verouderende infrastruktuur en mislukkings deur premier Panyaza Lesufi se regering. Nico de Jager van die DA eis beter sekuriteit en instandhouding van substasies om herhaalde kragonderbrekings te voorkom:
# Die Britse minister van Finansies, John Healey, sê hy gaan nie belastingverhogings in volgende maand se begroting uitsluit nie, en erken die staat se leenkoste is op ‘n “geskiedkundige hoogtepunt”. Die land se langtermyn-staatsleenkoste het verlede week ‘n 18-jaar hoogtepunt bereik te midde van die uitwerking van die VSA-Israelse oorlog, wat die olieprys nader aan een-duisend-596-rand-90-sent per vat gestoot het. Healey sê die topprioriteit is om sterker groei regoor Brittanje te ondersteun terwyl die regering se fiskale reëls streng toegepas word:
# Krieket: Die snelbouler Gerald Coetzee kry vir die eerste keer in drie jaar die kans om Suid-Afrika te verteenwoordig in die drie eendagwedstryde teen Australië. Hy is ingesluit in die groep van 16 spelers vir die reeks, wat op die 24ste in Durban begin. Die tweede wedstryd word drie dae later op die Wanderers gespeel, en die laaste een op die 30ste in Potchefstroom. Coetzee het tydens die 2023 Wêreldbeker in Indië laas in ‘n eendagwedstryd vir die Proteas gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-59-sent teen die euro en 21-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-823-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-407-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 99-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….