Nuus 06:00
BULLETIN 17 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid sal die vermoë van die staat eerste stel
# Die kajuitpersoneel-vakbond probeer ‘n staking by FlySafair vermy
# ‘n Konferensie gaan gehou word vir ‘n tweestaat-oplossing vir Israel en Palestina
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid sal fokus op ekonomiese hervorming, misdaadbekamping en die bou van ‘n bekwame staat. Ramaphosa het tydens die begroting van die Presidensie in die Parlement gesê alle departemente moet saamwerk om die ekonomie te laat groei, armoede te verminder en dienslewering te verbeter. Hy voeg by die RNE is daarop gemik om vertroue te herbou en werklike verandering te bewerkstellig, met die nasionale dialoog as ‘n belangrike platform om Suid-Afrikaners te verenig:
# Die Forum for South Africa beskuldig president Cyril Ramaphosa van magsmisbruik om korrupsie te beskerm ten koste van belastingbetalers. Die forum se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê Ramaphosa beskerm die elite en ignoreer gewone Suid-Afrikaners se stryd. Mashilompane kritiseer ook sy versuim om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, af te dank, omdat hy na bewering onder eed gelieg het. Hy sê die forum eis Ramaphosa se onmiddellike bedanking:
# Die Suid-Afrikaanse kajuitpersoneelvakbond, SACCA sê sy FlySafair-kajuitpersoneellede probeer om ‘n staking te vermy. Dit volg terwyl Solidariteit, wat ongeveer twee-derdes van die lugredery se vlieëniers verteenwoordig, waarskynlik volgende week sal staak, nadat lede die finale loonaanbod verwerp het. FlySafair se aanbod sluit in ‘n salarisverhoging van 5,7-persent en bykomende vergoedingsaanpassings. SACCA, wat ‘n loonverhoging van 15-persent vir die 2025/2026-boekjaar verlang, sê loononderhandelinge met die lugredery vorder goed.
# Die Oos-Kaapse regering sê daar sal nagenoeg 5,1-miljard-rand bestee moet word aan die herstel van die skade aan openbare infrastruktuur ná onlangse oorstromings. Ten minste 103 mense is dood toe verwoestende oorstromings Mthatha en Butterworth in Junie getref het. Honderd van die slagoffers is geïdentifiseer en begrawe. ‘n Dertienjarige seun word steeds vermis. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zolile Williams, sê 120-miljoen-rand is toegeken vir tydelike huisvesting:
# Internasionale gesante sal hierdie maand by die VN-hoofkwartier in New York ‘n tweestaatoplossing vir die Israel-Palestynse konflik bespreek, voor nasionale leiers in September vergader. Die konferensie, onder die mede-voorsitterskap van Frankryk en Saoedi-Arabië, was oorspronklik beplan vir die middel van Junie, om aandag te gee aan die langdurige diplomatieke poging om ‘n manier te vind vir die Israelse en Palestynse state om in vrede te leef. Dit is op die laaste oomblik uitgestel ná Israel se militêre veldtog teen Iran. Diplomatieke bronne het verlede week gesê die konferensie is herskeduleer vir 28 en 29 Julie.
# Gholf: Tien Suid-Afrikaners sal vandag afslaan in die 153ste Ope op Royal Portrush in Noord-Ierland. Onder hulle is 2010 se kampioen, Louis Oosthuizen, die land se voorste speler, Christiaan Bezuidenhout, Dean Burmester, Erik van Rooyen en Thriston Lawrence. Die verdedigende kampioen, Xander Schauffele van Amerika, slaan in die eerste twee rondes af saam met sy landgenoot JJ Spaun en die Spanjaard Jon Rahm, terwyl die wêreld-nommer-een, die Amerikaner Scottie Scheffler, saam met sy landgenoot Collin Morikawa en die Ier Shane Lowry speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-689-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-345-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….