Nuus 06:00
BULLETIN 15 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê burgers moet hul kulturele erfenis bewaar
# Julius Malema sê Afrikane moet hulle nie laat aflei deur xenofobie nie
# En rugby: Die slot Adré Smith word opgeroep na die Springbok-oefengroep
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrikaners versoek om sterker gemeenskappe te bou, kultuur-erfenis te bewaar, geleenthede vir jongmense te skep en te verseker dat toekomstige geslagte ‘n voorspoedige en verenigde samelewing erf. Hy het in Mpumalanga die lofrede gelewer tydens die spesiale amptelike begrafnisdiens van koning Makhosonke die Tweede van die amaNdebele-volk. Mashatile het tradisionele leiers aangespoor om saam te werk met die regering se instelling van die omvattende benadering tot migrasiebestuur:
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê buitelandse moondhede het die xenofobiese spanning in Suid-Afrika ignoreer omdat dit nie in hul belang is om in te gryp nie. Hy het op die begrafnisdiens van die MK-party se parlementêre adjunkhoofsweep, Muzi Ntshingila, in Johannesburg gesê Afrikane se aandag moet nie afgelei word deur interne konflikte soos xenofobie of geskille oor spaza-winkels nie, maar moet eerder gefokus bly op die groter stryd van ekonomiese bevryding:
# Die DA eis antwoorde oor die regering se planne om die nuwe Gqeberha Militêre Hospitaal in die Oos-Kaap op te rig, terwyl Een Militêre Hospitaal in Thaba Tshwane ná ‘n dekade se opknappingspogings steeds nie voltooi is nie. Die DA se verdedigingswoordvoerder, Chris Hattingh, sê meer as ‘n miljard-rand in belastingbetalerfondse is oor meer as 20 jaar bestee sonder dat die opknappings voltooi is. Hy sê die langdurige vertragings het militêre gesondheidsorgdienste verswak, wat soldate, veterane en hul gesinne sonder voldoende sorg laat.
Die DA is ook bekommerd oor ‘n groeiende krisis in polisie-aanspreeklikheid in KwaZulu-Natal nadat dit aan die lig gekom het dat die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat agt-duisend-751 sake met slegs 24 ondersoekers hanteer. Die party se lid in die Nasionale Raad van Provinsies, Mzamo Billy, sê met elke ondersoeker wat gemiddeld 364 sake elk hanteer, het slegs ses skuldigbevindings uit 302 ondersoeke gevolg. Hy sê ‘n beperkte vermoë en swakpunte in saakbestuur veroorsaak ernstige vertragings. Billy vra dringende ingryping om ondersoekwerk te versterk en openbare vertroue te herstel.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê Israel se aanvalle op Beiroet moes nie gebeur het nie, veral omdat hulle so na aan ‘n vredesooreenkoms met Iran is. Die Israelse Weermag het gisteroggend lugaanvalle op Hisbolla-vestings in die suide van die Libanese hoofstad uitgevoer na aanvalle in die noorde van Israel. Trump het op Truth Social beklemtoon Israel het die reg om homself te verdedig, maar die aanval waarop hy reageer het, was baie klein en betekenisloos. Hy sê daar mag geen verdere aanvalle op Libanon wees nie.
# Rugby: Die Stormers-slot Adré Smith is opgeroep vir die Springbok-oefengroep in Johannesburg. Die speler met meer as 50 wedstryde vir die Kaapstadse span is die jongste wat by die uitgebreide groep aansluit nadat sy spanmaat, Ruben van Heerden, verlede week opgeroep is. Hulle berei voor vir Saterdag se wedstryd teen die Barbarians in Gqeberha, terwyl die Suid-Afrika A-span in die voorwedstryd kragte meet met Zimbabwe. Bok-afrigter Rassie Erasmus en die SA A-span se breier, afrigter Mzwandile Stick, sal môre hul spanne aankondig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-405-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-291-dollar-een-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….