Nuus 06:00
BULLETIN 19 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC moet vandag sy kaderontplooiingsrekords oorhandig
# Eskom hou beurtkrag bedags opgeskort
# En, Solidariteit vra ekonomiese bevryding van oormatige belasting
# Die ANC het tot vandag tyd om ingevolge ‘n Konstitusionele Hofbevel volledige rekords van sy kaderontplooiingskomitee te oorhandig. Dit gaan terug tot 1 Januarie 2013, toe president Cyril Ramaphosa voorsitter van die komitee geword het. DA-leier, John Steenhuisen, sê indien die ANC versuim om vandag die rekords te oorhandig, sal hulle die Konstitusionele Hof vra om die regerende party van minagting van die hof aan te kla. Die DA het nog altyd volgehou dat die ANC se kaderontplooiingsbeleid ongrondwetlik en onregmatig is.
# Eskom sê hy gaan beurtkrag gedurende die dag opskort en in die aand weer in werking stel. Beurtkrag sal van vyfuur soggens tot vieruur in die middag opgeskort word waarna fase twee tot vyfuur soggens in werking sal tree. Hierdie patroon sal tot verdere kennisgewing van krag wees. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hoewel die beskikbare opwekkingskapasiteit volhou word, moet noodreserwes vir die week aangevul word om verhoogde fases van beurtkrag te voorkom:
# Die vakbond Solidariteit vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om in die komende begrotingsrede burgers te bevry van uitermatige belasting. Hy beveel aan die kategorieë vir persoonlike belasting word aangepas, en dat praktiese planne ingesluit word om ondoeltreffende besteding in sektore soos onderwys en gesondheidsorg te hanteer. Theuns du Buisson van Solidariteit stel ‘n spesiale voorkeurfonds van sowat vyf-miljard-rand per jaar voor om verskeie nasionale kwessies te takel:
# Die Nasionale Finansieringshulpskema vir Studente het administrateurs by alle instellings, TVET-kolleges en universiteite regoor die land ontplooi om registrasiehulp te verskaf. Hy het meer as 1,9-miljoen beursaansoeke ontvang. Die skema het in Januarie 2,8-miljard-rand aan universiteite uitbetaal. Dit sluit nie die berekening van fase-uitbetalings in wat die skema aan die begin van April gaan maak nie. ‘n Totaal van 580,1-miljoen-rand is vooraf aan kolleges vir onderrig uitbetaal, en ‘n bykomende 1-miljard-rand is opsygesit vir drie maande se toelae wat by registrasie betaalbaar is.
# President Cyril Ramaphosa sê alhoewel Covid-19 internasionaal nie meer as ‘n openbare gesondheidsgevaar beskou word is nie, is dit steeds ‘n endemiese virus wat voortdurend verander. Ramaphosa het gister sy deelname aan die Vergadering van Staatshoofde en Regerings van die Afrika-unie afgesluit. As kampvegter van die AU se reaksie op Covid-19, het Ramaphosa ‘n verslag voorgelê oor die vasteland se hantering van die pandemie en sy gereedheid teen toekomstige gesondheidsbedreigings. Hy het leiers aangemoedig om voort te gaan om hul lande se gereedheidsvlakke teen toekomstige pandemies te verbeter.
# Krieket: Engeland se kaptein, Ben Stokes, sê hulle is nie spyt oor hul benadering nie al het hulle met 434 lopies teen Indië verloor. Die besoekers is laat op die vierde dag van die derde toets in Rajkot vir 122 uitgeboul, nadat hulle ‘n teiken van 557 gestel is. Ravindra Jadeja is as speler van die wedstryd aangewys vir sy sewe paaltjies in die toets en 112 lopies in die eerste beurt. Indië loop twee-een voor in die reeks van vyf wedstryde. Stokes sê ten spyte van kritiek gaan hulle niks verander nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-74-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-18-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….