Nuus 06:00
BULLETIN 3 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa waarsku globale skokke kan Suid-Afrika se herstel vertraag
# Skole in die Eden- en Sentrale Karoo-distrikte is gesluit weens ‘n waarskuwing oor swaar reënval
# En die Oekraïnse minister van Buitelandse Sake sê Putin se keuses raak op
# President Cyril Ramaphosa sê globale konflikte en stygende oliepryse kan Suid-Afrika se ekonomiese herstel vertraag. Ramaphosa het in sy begrotingspos-toespraak vir die Presidensie in die Parlement gesê spanning in streke soos die Midde-Ooste het energie- en kunsmiskoste laat styg, wat inflasie en die lewenskoste kan beïnvloed. Hy het gewaarsku dat hierdie eksterne druk ook ekonomiese groei en werkskepping in die kort termyn kan beïnvloed:
Ramaphosa sê intussen ook die 2026/2027 Presidensiebegroting sal die bekamping van misdaad, korrupsie en ongelykheid eerste stel. Ramaphosa het in die Parlement gesê die regering versterk wetstoepassing, die Nasionale Vervolgingsgesag en ander instellings om veiligheid en aanspreeklikheid te verbeter. Hy het ook genoem dat die Madlanga-kommissie reeds ‘n uitwerking gehad het. Hy het bygevoeg korrupsie sal nie geduld word nie, ongeag ‘n persoon se posisie, status of politieke verbintenis:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê ten spyte van tekens van ekonomiese stabilisering en verbeterende beleggersvertroue, staar Suid-Afrika steeds ‘n reuse-werkkrisis in die gesig. Die land se amptelike werkloosheidsyfer het in die eerste kwartaal vanjaar tot 32,7-persent gestyg. Meth sê haar departement verskerp pogings om werkloosheid aan te pak deur ‘n kombinasie van werkprogramme, vaardigheidsontwikkelingsinisiatiewe en arbeidsmarkhervormings. Sy sê een van hierdie inisiatiewe is die hersiene Arbeidsaktiveringsprogram, wat 200-duisend geleenthede gedurende die huidige finansiële jaar wil skep.
# Skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte van die Wes-Kaap sal vandag en môre gesluit wees. Dit is weens die Suid-Afrikaanse Weerdiens wat ‘n oranje vlak 8-waarskuwing uitgereik het vir swaar reënval en moontlike wydverspreide oorstromings vir dele van die Wes- en Oos-Kaap. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê alle ander skole in die provinsie sal oop wees tensy goedkeuring vir sluiting verleen is, wat op individuele basis gedoen sal word:
# Die Oekraïnse minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, sê die jongste aanvalle deur Rusland toon dat president Vladimir Putin nie meer keuses het nie. Moskou het gisteroggend reuse-missiel- en hommeltuigaanvalle in Kiëf en die sentrale stad Dnipro uitgevoer, wat die lewens van ten minste 22 mense, insluitend twee kinders geëis het. Rusland sê die sistematiese aanvalle was vergelding vir verlede maand se dodelike aanval op ‘n studentekoshuis in ‘n besette deel van oostelike Oekraïne. Kiëf het ontken dat hy agter die aanval was. Sybiha sê Putin is ‘n oorlogsmisdadiger wat geen ander keuse as terreur het nie.
# Rugby: Die voormalige Springbok-afrigter Jacques Nienaber sê hy is onseker oor sy toekoms by Leinster in Ierland, ten spyte daarvan dat hy nog ‘n jaar op sy kontrak oor het. Sy span speel hierdie naweek teen die Stormers in die halfeindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle teen Bordeaux in die Kampioenebeker-eindstryd verloor het. Dit was hul tweede keer in die eindstryd, terwyl hulle ook verlede seisoen die VRK gewen het. Maar Nienaber sê uitvoerende hoofde en rade word egter beïnvloed deur openbare en mediakritiek eerder as deur spanne se prestasies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-804-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-489-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….