Nuus 07:00
BULLETIN 2 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die ampsklagkomitee moet ’n onafhanklike voorsitter hê
# Die DA verwelkom die OVK se ondersoek na skenkings vir die ANC en Rise Mzansi
# En tennis: Serena Williams maak haar langverwagte terugkeer by Queen’s Club
# Die MK-party het sy teleurstelling uitgespreek met Makashule Gana van Rise Mzansi se verkiesing as voorsitter van die ampsklagkomitee en bevraagteken sy objektiwiteit. Gana het 19 stemme gekry teenoor die leier van die United African Transformation, Wonderboy Mahlatse, se 12. Die komitee moet besluit of president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging geplaas moet word oor die Phala Phala-skandaal. John Hlophe van die MK-party sê die ANC sal Gana gebruik om Ramaphosa te beskerm:
# Die DA verwelkom die Verkiesingskommissie se ondersoek na finansiële skenkings aan die ANC en Rise Mzansi. Die ANC het versuim om 770-duisend-rand se skenkings betyds te verklaar. Die kommissie stel ook ondersoek in na ʼn donasie van 30-miljoen-rand aan Rise Mzansi wat van ʼn lening omgeskakel is. Die DA sê die Wet op die Finansiering van Politieke Partye bestaan om seker te maak Suid-Afrikaners weet wie politieke partye befonds. Hy sê partye wat nie vertrou kan word om eerlik oor hul skenkers te wees nie, kan nie vertrou word om eerlik te regeer nie.
# Adjudant-offisier Karl Sander van die Valke in KwaZulu-Natal het alle betrokkenheid by beweerde dwelmdiefstalle ontken en voor die Madlanga-kommissie getuig dat hy met verlof was toe beide die dwelmbeslaglegging en die daaropvolgende diefstal in Port Shepstone plaasgevind het. Hy het verder onthul dat hy voorheen ‘n poligraaftoets ondergaan het tydens ‘n ondersoek na die beweerde diefstal van sy koffiemasjien:
# Die Europese Unie sê hy is gereed om by te dra tot ʼn volhoubare en vreedsame oplossing tussen Amerika en Iran. ʼn Voorlopige vredesooreenkoms wat deur Pakistan bemiddel is, word deur die twee lande oorweeg terwyl president Donald Trump van Amerika sê die fokus is op Iran se kern-vermoë. Die EU se verteenwoordiger vir Buitelandse Sake en Veiligheidsbeleid, Kaja Kallas, sê sy sien ʼn geringe diplomatieke moontlikheid om die huidige tydelike skietstilstand te verleng en die Straat van Hormoes te heropen:
# Tennis: Die 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena Williams, het aangekondig dat sy amptelik na beroepstennis terugkeer. Die 44-jarige Amerikaner hervat haar loopbaan volgende week by Queen’s Club in Londen, byna vier jaar nadat sy uitgetree het. Sy sal volgens berigte saam met die Kanadese tiener, Victoria Mboko, in die dubbelspel speel. Williams sê sy het van die beste oomblikke in haar loopbaan op grasbane gehad en Queen’s Club voel na die perfekte plek om hierdie volgende hoofstuk te begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-808-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-464-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-8-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens het sy ‘wees die reddingsboei, gee bloed, gee ‘n volgende dag’-veldtog van stapel gestuur om Wêreldbloedskenkersdag en 25 jaar van lewensredding deur bloedskenking te vier. Die veldtog vereer duisende Suid-Afrikaners wie se skenkings steeds pasiënte ondersteun, van ongelukslagoffers en kankerpasiënte tot pasgebore babas wat dringende sorg benodig. Die organisasie doen ‘n beroep op meer burgers, veral jongmense, om gereeld bloed te skenk, aangesien bloed nie vervaardig kan word nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….