Nuus 06:00
BULLETIN 2 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Rise Mzansi sê Makashule Gana sal billikheid in die ampsklagkomitee verseker
# Iran skort sy vredesgesprekke met die VSA op totdat Israel sy aanvalle op Libanon staak
# En sokker: Bafana Bafana vertrek na die Wêreldbeker sonder hul hulpafrigter
# Rise Mzansi sê die verkiesing van sy parlementslid, Makashule Gana, as voorsitter van die Artikel 89-ampsklagkomitee is ‘n belangrike stap vir verantwoordbaarheid in die Parlement. Die party sê die komitee sal regverdig, ernstig en in ooreenstemming met die Grondwet, sonder politieke inmenging, moet werk. Mabine Seabe van Rise Mzansi sê Gana beskik oor sterk wetgewende ervaring, integriteit en ‘n diepgaande begrip van parlementêre prosesse:
ActionSA het intussen teleurstelling uitgespreek oor die verkiesing van ‘n ANC-goedgekeurde kandidaat as voorsitter van die Parlement se ampsklagkomitee. Lerato Ngobeni van die party sê die proses moes deur ‘n onafhanklike opposisiefiguur gelei gewees het om onpartydigheid en regverdigheid te verseker. Ngobeni glo die komitee, wat sal bepaal of daar gronde is vir die verwydering van ‘n dienende president, moet vry wees van politieke invloed om openbare vertroue te handhaaf. Sy het die komitee aangespoor om regverdig en deursigtig te bly.
# Die ANC-vroueliga sê sy president, Sisisi Tolashe, sal verlof neem terwyl sy aan dissiplinêre prosesse binne die ANC onderwerp word. Die besluit volg na ‘n spesiale vergadering van die nasionale uitvoerende komitee. Tolashe word daarvan beskuldig dat sy twee luukse voertuie wat aan die vroueliga geskenk is, vir persoonlike gebruik geneem het. Die sekretaris-generaal van die liga, Nokuthula Nqaba, sal intussen die leierspligte behartig en spoor lede aan om gedissiplineerd te bly:
# Die waarnemende Nasionale Kommissaris, Puleng Dimpane, het ‘n Nasionale Forensiese Taakspan, en Misdaadintelligensie-kundiges, ontplooi om die ontploffings te ondersoek wat verlede week by Woolworths-winkels in Gauteng en die Vrystaat voorgekom het. Die eerste ontploffing het Donderdag by Woolworths, Menlyn Park in Pretoria plaasgevind, en die tweede minder as 24 uur later by die Prellerplein-tak in Bloemfontein. Die polisie sê die ondersoek is tans in ‘n baie vroeë stadium en dit is te vroeg is om die voorvalle as terrorisme te klassifiseer.
# Iran het vredesamesprekings met die VSA opgeskort weens die toenemende Israelse aanvalle op Libanon. Dit kom te midde van ‘n toenemende golf van Israelse aanvalle in Suid-Libanon nadat premier Benjamin Netanyahu gesê het die weermag sal sy aanslag teen die Iran-gesteunde militante groep Hisbolla verskerp. Volgens Iranse staatsmedia sal Teheran stappe doen om beperkte toegang tot die Straat van Hormoes heeltemal te blokkeer en ander fronte te aktiveer. Ten minste drie-duisend-433 mense is sedert 2 Maart dood en tien-duisend-395 gewond in Israelse aanvalle op Libanon.
# Sokker: Bafana Bafana het gister sonder hul hulpafrigter, Helkman Mkhalele, na hul Wêreldbeker-oefenbasis in Pachuca, Mexiko, vertrek. Hy wag steeds vir die verwerking van sy visum deur die Amerikaanse ambassade. Die groep sou oorspronklik Sondag vertrek, maar is teruggehou deur ‘n vertraging in die verkryging van visums wat deur die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging as ‘n administratiewe gemors beskryf is. Die SAFA-president, Danny Jordaan, sê hopelik sal die visumkwessie spoedig afgehandel word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-317-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-483-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 94-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….