Nuus 06:00
BULLETIN 29 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Kganyago sê die handhawing van geloofwaardigheid is noodsaaklik vir ekonomiese bestendigheid
# Die VSA beskuldig Iran van ‘n ‘growwe skietstilstandskending’ na die aanvalle in Koeweit
# En rugby: Die Bulle-kaptein sê hulle is vol vertroue voor die VRK-kwarteindstryd
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sê hy bly gefokus op die beskerming van inflasie-geloofwaardigheid te midde van voortslepende wêreldwye en plaaslike onsekerheid. President Lesetja Kganyago waarsku stygende oliepryse, geopolitieke spanning en klimaat-verwante skokke laat inflasie styg en ekonomiese groei verswak. Hy sê die bank se prioriteit is om inflasie-verwagtings te anker en mettertyd weer op sy drie-persent-teiken te kry, selfs al beteken dit strenger monetêre beleid op die kort termyn:
‘n Ekonoom aan die Noordwes-universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê intussen die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot sewe-persent te verhoog, is ʼn voorsorgmaatreël teen toekomstige inflasie. Hy sê egter daar is steeds beperkte bewys van sterker inflasie-verwagting en die verhoging se tydsberekening is debatteerbaar gegewe die swak groeivooruitsig. Parsons waarsku hoër rentekoerse gaan geldleen-koste vir huishoudings en sakeondernemings verhoog in ʼn ekonomie wat reeds sukkel.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê ʼn reuse-dwelmklopjag by die Beitbrug-grenspos in Limpopo is een van die betekenisvolste suksesse teen oorgrens-dwelmsmokkelary die afgelope jare. ʼn Vragmotor van Zimbabwe is gister onderskep met dwelms ter waarde van byna een-miljard-rand wat vermoedelik vir die vervaardiging van Mandrax gebruik word. Schreiber sê die operasie bewys die doeltreffendheid van die gebruik van intelligensie en tegnologie om die landsgrense te beveilig en op onwettige aktiwiteite toe te slaan.
# Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies van die Stad Ekurhuleni, Jongizizwe Dlabathi, sê die metro ondervind toenemende druk oor sy vermoë om dienste te lewer as gevolg van stygende koste en hoë inkomsteverliese. Hy het gister Ekurhuleni se inkomstebegroting van 71-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar gelewer. Die begroting sluit wydverspreide munisipale tariefverhogings in, met watertariewe wat met elf-persent en elektrisiteitstariewe met ongeveer nege-persent styg. Dlabathi sê die huidige diensleweringsmodel is onvolhoubaar sonder finansiële bydraes van inwoners:
# Die Amerikaanse Sentrale Bevel sê Iran se aanval op Koeweit gister was ‘n growwe skietstilstandskending. Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wag het bevestig hy het ‘n Amerikaanse lugbasis in die streek geteiken. Dit is nadat die VSA Iranse hommeltuie oor die Straat van Hormoes afgeskiet en ‘n militêre terrein in Bandar Abbas aangeval het. Die Iranse ministerie van Buitelandse Sake het die Amerikaanse aanvalle veroordeel en gesê dit is ‘n skending van die skietstilstand. CENTCOM sê sy optrede teen Teheran is afgemete, suiwer verdedigend en bedoel om die skietstilstand te handhaaf.
# Rugby: Die Bulle-kaptein, Marcell Coetzee, sê hulle is nou al weke lank in ʼn uitspeel-gees wat die druk van môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen Munster in Pretoria makliker maak om te hanteer. Hulle het ná ʼn swak begin die seisoen omgekeer en nege van hul laaste tien groepwedstryde gewen. Coetzee is dankbaar oor die ervaring van Springbok-spelers soos Handré Pollard en Willie le Roux, en sê hulle is vol vertroue. Afskoptyd is eenuur môremiddag op Loftus.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-495-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….