Nuus 06:00
BULLETIN 28 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK is bekommerd oor die “ongeregverdige aanvalle” op die integriteit van die verkiesingsproses
# Paul Mashatile doen ‘n beroep op intelligensie-geleide samewerking om bendemisdaad te beveg
# En die WGO-hoof waarsku die voortdurende konflik in die DRK belemmer die reaksie op Ebola
# Die Verkiesingskommissie sê ongeregverdige aanvalle op die integriteit van die verkiesingsproses beskadig nie net individuele of institusionele reputasies nie; hulle berokken blywende skade aan die land se grondwetlike struktuur. Die totale aantal geregistreerde kiesers staan op 27,9-miljoen Suid-Afrikaners voor die plaaslikeregeringsverkiesing in November. Die voorsitter van die OVK, Mosotho Moepya, sê die verdediging van die integriteit van ‘n verkiesing vereis dat politieke partye, hul leiers en kandidate eties kommunikeer en nie ongegronde bewerings as wapens gebruik nie:
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die sukses van Operasie Prosper hang af van intelligensie-gedrewe polisiëring en sterker samewerking tussen gemeenskappe om bendemisdadigers te help identifiseer. Hy het gepraat tydens ‘n besoek aan bende-geteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte, insluitend Mitchells Plain, Lentegeur en Gugulethu, waar gewelddadige skietery voortduur ten spyte van die militêre ontplooiing. Mashatile sê die regering wil die situasie op die grond assesseer en pogings versterk om bendegeweld te bekamp:
# Die ekonoom, Dawie Roodt sê Suid-Afrika loop die risiko om mense van die rand weg te dryf as valutabeheer op kriptogeldeenhede verskerp word. In ‘n onderhoud met BizNews het Roodt die voorgestelde Tesourie-regulasies kritiseer wat kripto-houers kan dwing om bates te verklaar en, in sommige gevalle, aan die staat te verkoop. Hy het aangevoer blokkettingtegnologie maak tradisionele valutabeheer moeilik om af te dwing. Intussen sê die Nasionale Tesourie die konsepregulasies is daarop gemik om onwettige finansiële vloei te voorkom en nie om privaat eienaarskap van digitale bates te ondermyn nie.
# Die Johannesburgse onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Loyiso Masuku, sê hoewel die metro se finansies onder geweldige druk is, het dit nie ineengestort nie. Sy het ‘n begroting van 971-miljard-rand vir die 2026/2027-boekjaar ter tafel gelê. Die begroting sluit strawwe tariefverhogings in, met waterpryse wat met 12,5-persent styg, elektrisiteit met 8,63-persent en sanitasie met 6,2-persent. Masuku sê hulle moet dringende kwessies befonds, beskerm wat noodsaaklik is, benut wat moontlik is, en saamwerk waar hulpbronne tekort skiet:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dat die Oostelike Demokratiese Republiek die Kongo nou op ‘n katastrofiese botsing van siekte en konflik afstuur, met die Ebola-uitbreking in die provinsie Ituri wat aan die kortste end trek. Daar was nagenoeg 223 sterftes in die DRK en Uganda. Ituri is sedert 2021 onder militêre bewind, terwyl die uitbreking ook versprei het na die Rwandees-gesteunde M23-groepgebiede in die provinsies Noord- en Suid-Kivu. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, sê hulle kan nie gemeenskapsvertroue bou of siek pasiënte isoleer terwyl bomme val nie.
# Rugby: Blitsbok-speler Gino Cupido sê hulle sal hierdie naweek van vooraf begin, ten spyte van hul onlangse suksesse. Suid-Afrika het die internasionale sewesreeks beklink voordat hulle in Hong Kong in die eerste van drie wêreldkampioenskaptoernooie gewen het. Die tweede vind hierdie naweek in Valladolid, Spanje, plaas, waar die Blitsbokke teen Groot-Brittanje, Kenia en Australië in Groep A te staan kom. Die laaste toernooi word vroeg volgende maand in Bordeaux, Frankryk, gespeel. Cupido sê hy wil die span weer eens help om na glorie te streef.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-416-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-457-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….