Nuus 06:00
BULLETIN 16 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê lande wat nie die Wêreldhofsaak gesteun het nie, is nou bekommerd oor die Palestyne
# Israel se spesiale magte voer ‘n aanval uit op die grootste funksionerende hospitaal in Gaza
# En in rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap keer terug met die Bulle wat ‘n oorwinning op Ellispark soek
# President Cyril Ramaphosa het sy administrasie se volgehoue ondersteuning vir die mense van Gaza bevestig. Hy het op ‘n gesamentlike sitting van die Parlement gesê baie lande wat Suid-Afrika se aansoek by die Internasionale Geregshof vroeër gekritiseer, doen nou ‘n oproep op Israel doen om die moord op Palestyne te stop. Hy sê die regering sal aanhou werk vir vrede op die vasteland en die res van die wêreld. Suid-Afrika het Dinsdag ’n dringende petisie by die Internasionale Hof ingedien om in te gryp, ná Israel se aankondiging dat hy sy militêre operasie in Rafah verleng.
Israelse spesiale magte het intussen ‘n aanval uitgevoer op die Nasser-hospitaal in Gaza, die grootste werkende hospitaal in die enklawe. Dit volg nadat hulle dit vir dae afgesper het. Israel se Weermag het verskeie verdagtes in hegtenis geneem. Dokters Sonder Grense sê ‘n onbekende aantal mense is dood of beseer toe die hospitaal gisteroggend gebombardeer is. Volgens CNN het mediese owerhede gesê Israelse skerpskutters het vroeër ‘n aantal mense doodgeskiet wat uit die Nasser-hospitaal probeer vlug het.
# Ramaphosa het die regering se verbintenis bevestig tot die behoud en uitbreiding van vrede in Afrika. Personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is na die Demokratiese Republiek van die Kongo ontplooi as deel van ‘n vredesending van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, waar twee soldate dié week dood en drie gewond is in ‘n mortierbomaanval. Ramaphosa het in sy antwoord op die staatsrede-debat in die Parlement die moed en durf van die weermaglede geloof, wat te midde van groot gevaar vrede en bestendigheid in Afrika help bevorder:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, het verduidelik dat toeriste steeds kan aansoek doen vir die verlenging van hul visums, te midde van kommer oor ‘n onlangse omsendbrief van Binnelandse Sake. Dit het aangedui dat toeriste sonder visumverlengings sou moes voorberei om teen volgende week te vertrek. De Lille het ná samesprekings met minister Aaron Motsoaledi bevestig die omsendbrief was van interne aard en bedoel vir amptenare van die Grensbestuursowerheid. Sy sê die inhoud raak nie toeriste met verlengingsaansoeke en kwitansies nie.
# Die uMkhonto we Sizwe-Jeugliga sal vandag in Pretoria betoog oor studentebehuising en die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. Die betoging sal om nege-uur by Kerkplein begin, en optoggangers sal na verwagting via Paul Krugerstraat na die kantore van die Departement van Hoër Onderwys beweeg. Ander strate wat geraak word, is Pretorius-, Sophie de Bruyn- en Frances Baard-straat. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes soos Kgosi Mampuru-, Bosman- en WF Nkomo-straat te gebruik. Die Tshwane-metropolisie en die polisie sal die optog monitor.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap keer hierdie naweek terug ná ‘n onderbreking van drie weke en plaaslike ondersteuners sal met twee Suid-Afrikaanse derbies vermaak word. Die Haaie is môre die gasheer vir die Stormers op Kingspark in Durban, terwyl Ellispark die plek sal wees vir die Jukskei-derby tussen die Leeus en die Bulle. Die span van Pretoria het hul bure in die negende ronde van die kompetisie met 30-28 geklop op Loftus Versfeld, en die Bulle se medekaptein, Marcell Coetzee, sê hulle het ‘n groter fokus vir die herontmoeting:
# En laastens die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-998-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-3-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….