Nuus 06:00
BULLETIN 13 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga sê oproepe vir Ramaphosa om te bedank is politieke opportunisme
# Daar is oproepe vir Keir Starmer om uit te tree terwyl vier ministers bedank
# En krieket: Shabnim Ismail word teruggebring om die Protea-vroue se boulaanval te versterk
# Die ANC-jeugliga sê hy verwerp toenemende oproepe dat president Cyril Ramaphosa moet bedank en sê dit is politieke opportunisme. Die president hou vol dat hy nie sal bedank nie. Dit volg op die uitspraak van die Konstitusionele Hof verlede week, dat die parlementêre stemming wat verhoed het dat die onafhanklike Artikel 89-paneel se verslag oor Phala Phala na ‘n ampsklagkomitee verwys word, onwettig was. Die president van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, sê hulle glo Ramaphosa het geen misdaad gepleeg nie:
Intussen sê die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party Ramaphosa se besluit om die Artikel 89-paneel se verslag oor die Phala Phala-saak te laat hersien, sal enige ampsklag vertraag. Die party voer aan dit verleng die onsekerheid rondom bewerings van ernstige wangedrag en kan die saak langer onopgelos laat. Hy waarsku die vertraging verdiep die kommer oor vertroue in die regering en sy leierskap. Mbulelo Mandlana van die SAKP doen ‘n beroep op ‘n vinniger proses om verdere skade aan vertroue in staatsinstellings te voorkom.
# Die Suid-Afrikaanse Elektrisiteithandelaarsvereniging sê elektrisiteitshervormings in Suid-Afrika gaan nou minder oor beleidsrigting en meer oor uitvoering. Die groep, wat saam met Krutham werk, sê die regering het breedweg ooreengekom oor ‘n multimark-elektrisiteitstelsel, maar vordering bly oneweredig, en tydlyne bly verskuif op verskeie gebiede. Sleutelhervormings wat nog gefinaliseer moet word, sluit in die elektrisiteitsprysbeleid, markhandelsreëls en Eskom se herstruktureringsproses. Die groep waarsku swak kapasiteit en vertragings in implementering kan die hervormingsproses vertraag.
# Die Social Movement for Advocacy, Rights, and Transformation is ontsteld oor bevindings in die ondersoekverslag van die Gautengse Drankraad wat deur die LUR, Vuyiswa Ramokgopa, vrygestel is. Die groep se woordvoerder, Lehlogonolo Muthevhuli, beweer korrupsie, wanadministrasie en swak handhawing het wydverspreide onwettige drankhandel in Gauteng moontlik gemaak. Sy waarsku drankwinkels naby skole vererger dwelmmisbruik, misdaad en maatskaplike verval:
# Vier ministers het bedank te midde van toenemende oproepe dat die Britse premier Keir Starmer moet bedank weens die Arbeidersparty se rampspoedige plaaslikeverkiesingsuitslae. In sy bedankingsbrief het die minister van Gesondheid, Zubir Ahmed, gesê dit is duidelik dat die publiek onherstelbaar vertroue in Starmer verloor het. Die minister van Gemeenskappe, Miatta Fahnbulleh, die minister van Veiligheid, Jess Phillips, en die minister van Slagoffers en die Bekamping van Geweld teen Vroue en Meisies, Alex Davies-Jones, het ook bedank. Starmer het aan sy kabinet gesê die Arbeidersparty het ‘n proses om ‘n leier uit te daag, en dat dit nog nie in werking gestel is nie.
# Krieket: Die hoofafrigter van Proteas-Vroue, Mandla Mashimbuyi, sê die veteraan Shabnim Ismail is weer in die groep omdat hulle haar X-faktor nodig het vir die T20-Wêreldbeker, wat volgende maand in Engeland en Wallis begin. Die 37-jarige is ingesluit in die groep van 15 spelers nadat sy haar uittrede teruggetrek het. Mashimbuyi sê hy het in gesprek getree met Ismail na verlede jaar se 50-boulbeurt Wêreldbeker in Indië omdat hy Suid-Afrika se lustelose boulaanval wou versterk. Haar terugkeer word beskryf as die Proteas se beste kans om ‘n ontwykende Wêreldbeker-titel in te palm.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-652-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-716-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….