Nuus 06:00
BULLETIN 7 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie hou vol Suid-Afrikaners is nie xenofobies nie
# Minister Tolashe sê sy het nie die Parlement mislei nie
# En Trump waarsku Iran om ‘n ooreenkoms te aanvaar om die oorlog te beëindig
# Die Presidensie het bewerings dat onlangse betogings in Suid-Afrika deur xenofobie gedryf word, verwerp en sulke karakteriserings as lui ontleding beskryf. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya sê die kwessies is meer ingewikkeld en gekoppel aan breër sosio-ekonomiese uitdagings, insluitend migrasiedruk regoor die vasteland van Afrika. Magwenya sê president Cyril Ramaphosa en die president van Mosambiek, Daniel Chapo, stem saam Afrikalande moet saamwerk om die oorsake van migrasie aan te spreek, eerder as om die situasie verkeerd te beskryf:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, het ontken dat sy die Parlement mislei het oor Chinese voertuigskenkings vir die ANC-vroueliga. Sy het na bewering twee luukse voertuie, wat glo deur Chinese amptenare geskenk is, in die name van haar kinders, eerder as die ANC-vroueliga geregistreer. Tolashe het Woensdag voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling verskyn en gesê toe sy op ‘n skriftelike parlementêre vraag oor die skenking gereageer het, het sy nie gejok oor hul aanwending nie:
# Die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, sê die Stad het belangrike munisipale finansiële wette oortree en herhaalde waarskuwings deur die Nasionale Tesourie geïgnoreer. In ‘n media-inligtingsessie het Zille gesê ‘n brief van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het verskeie oortredings uiteengesit, insluitend die goedkeuring van ‘n onbefondsde begroting en die versuim om onreëlmatige en verkwistende besteding te voorkom. Sy waarsku hierdie oortredings kan die stad se finansiële krisis vererger en verdere ingryping deur Tesourie tot gevolg hê:
# Die Durbanse Kamer van Koophandel en Nywerheid waarsku skerp brandstofprysverhogings sal Durban se logistiek-gedrewe ekonomie ernstig beïnvloed. Petrol het met meer as drie-rand per liter gestyg, en diesel met meer as vyf-rand per liter, wat druk op ondernemings en verbruikers plaas. Paniekaankope is ook aangemeld, terwyl motoriste sê stygende brandstofkoste dryf hul tot finansiële breekpunt. Die kamer se uitvoerende hoof, Palesa Philli, sê die verhoging kan werksverliese veroorsaak namate vervoerkoste styg.
# President Donald Trump het ‘n nuwe waarskuwing aan Iran gerig en gesê dat as hulle nie ‘n ooreenkoms aanvaar om die oorlog te beëindig nie, hulle ‘n nuwe vlaag bomaavalle met ‘n baie hoër intensiteit as voorheen sal moet trotseer. Volgens berigte beweeg die twee lande nader aan ‘n ooreenkoms oor ‘n eenbladsy-memorandum van verstandhouding om die oorlog te beëindig. Trump het op Truth Social gesê, as Iran tot ‘n ooreenkoms instem, sal die Amerikaanse militêre operasie eindig en sal die Straat van Hormoes vir almal oop wees.
# Krieket: Die eindstryd van die Indiese Premierliga sal nie meer aan die einde van die maand in Bengaluru gespeel word nie. Die wedstryd is weens operasionele en logistieke probleme na Ahmedabad verskuif. Royal Challengers Bengaluru se oorwinningsvieringe het verlede jaar tot die dood van 11 mense gelei tydens ‘n stormloop buite die Chinnaswamy-stadion, waarna die plaaslike regering veiligheidsreëlings hersien het voordat hulle IPL-wedstryde hierdie seisoen daar toegelaat het. Die beheerliggaam, BCCI, sê hulle kon nie aan al die vereistes voldoen nie en is gedwing om die eindstryd te verskuif.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-377-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-696-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….