Nuus 06:00
BULLETIN 29 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verleng die brandstofheffingverligting
# Die VAE verlaat OPUL, wat ‘n groot slag vir die olieprodusentegroep is
# En minister McKenzie beskryf Mimi Coertse as ‘n blywende simbool van Suid-Afrikaanse uitnemendheid
# Die Ministeries van Finansies en Minerale en Petroleum Hulpbronne het ‘n verlenging van die tydelike brandstofheffingverligting aangekondig om verbruikers te beskerm teen stygende brandstofpryse wat deur die voortgesette Midde-Oosterse konflik gedryf word. Die brandstofheffingsverlaging van drie-rand per liter wat hierdie maand ingestel is, sal nou volgende maand en Junie van krag wees, met bykomende verligting vir diesel. Die ondersteuning sal vanaf Julie uitgefaseer word. Die plan sal na verwagting lei tot ‘n inkomste-verlies van sowat 17-miljard-rand.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die beplande opknapping van die ses besigste toegangspunte sal grensveiligheid aansienlik versterk en help om onwettige handel te verminder. Schreiber het tydens die aankondiging van die suksesvolle openbare-privaat vennootskap-bieërs gesê die herontwikkelingsprojek van 12,5-miljard-rand sal infrastruktuur vernuwe, gevorderde tegnologiestelsels bekendstel en samewerking tussen grensagentskappe verbeter:
Die Grensbestuursowerheid het intussen die suksesvolle bieërs aangekondig om ses groot landgrensposte deur middel van openbare-privaat vennootskappe te herontwikkel. Die suksesvolle bieërs is onder andere die Baobab-konsessie vir Beitbrug en Oshoek, die Raulux-konsortium vir Lebombo, die Kgorong-konsortium vir die Maseru-brug, die Kopfontein-konsortium vir Kopfontein en die Imbani-konsortium vir die Ficksburg-brug. Kommissaris Michael Masiapato het aan die media gesê die projek sal grensinfrastruktuur opgradeer, sekuriteit verbeter en reis en handel meer doeltreffend maak:
# Die Verenigde Arabiese Emirate sal volgende maand aan die OPUL en OPUL+ groepe van groot olieproduserende nasies onttrek, wat ‘n einde maak aan sy lidmaatskap van meer as 50 jaar. OPUL is in 1960 gestig om die belange van groot olie-uitvoerders te beskerm deur produksie te koördineer om bestendige inkomste vir sy lede te verseker. Die VAE-minister van energie, Suhail Mohamed al-Mazrouei, sê hierdie besluit sal hom help om op die lang termyn aan die groeiende wêreldwye energievraag te voldoen. Hy sê dit sal nie ‘n groot uitwerking op die mark hê nie as gevolg van die versperring van die Straat van Hormoes.
# Rugby: ‘n Opdraande stryd lê vir die Leeus voor in hul laaste twee Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde nadat hulle hul ses vorige wedstryde gewen het. Die Johannesburg-span is tans derde op die punteleer, hul beste posisie ooit, maar kom in hul volgende wedstryde in Ierland te staan voor die verdedigende kampioen Leinster en Munster. Die Leeus kan onder die top-vier eindig, maar kan ook kwalifisering vir die kwarteindrondes misloop as die uitslae nie in hulle guns is nie. Afrigter Ivan van Rooyen sê hulle fokus tans net op Leinster en sal daarna begin beplan vir Munster.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-315-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-596-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-69-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die afsterwe van die internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse opera-legende, Mimi Coertse, as ‘n groot verlies vir die kuns- en kultuurgemeenskap beskryf. Die 93-jarige is in haar huis in Pretoria oorlede. In haar uitmuntende loopbaan wat oor dekades gestrek het, het sy in van die wêreld se mees ikoniese operas opgetree, insluitend Mozart se Die Towerfluit as die Koningin van die Nag en Richard Strauss se Ariadne auf Naxos as Zerbinetta. McKenzie sê Coertse was ‘n nasionale skat en ‘n blywende simbool van Suid-Afrikaanse uitnemendheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….