Nuus 06:00
BULLETIN 23 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Raymond Parsons waarsku dat olieskokke en verhogings in nutsdienste inflasie sal laat styg
# ‘n Nuwe opname bevind baie Amerikaners bevraagteken Trump se temperament
# En rugby: ‘n Reusestryd word Saterdag tussen die twee beste VRK-spanne in Kaapstad verwag
# Die ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, Raymond Parsons, sê die volle uitwerking van onlangse brandstofprysverhogings, hoër elektrisiteitstariewe en belasting sal eers in die komende maande gevoel word. Hy waarsku inflasie kan tydelik tot bo vier-persent styg voor dit geleidelik sal daal na die teiken van drie-persent. Hy sê voortgesette wêreldwye energiedruk en binnelandse kostestygings sal inflasie op die kort termyn waarskynlik hoog hou, terwyl onsekerheid steeds ekonomiese vooruitsigte bepaal:
Standard Bank sê intussen ook Suid-Afrika kan in die komende maande hoër inflasie verwag weens ‘n brandstofprys-skok wat verbind word met die wêreldwye spanning. Elna Moolman van die bank waarsku onlangse stygings in brandstofpryse word nog nie ten volle weerspieël in Maart se inflasiedata nie, wat beteken die uitwerking sal waarskynlik in die April-data en daarna gesien word. Moolman voeg by toekomstige neigings sal afhang van hoe oliepryse en die rand op wêreldwye ontwikkelings reageer:
# Die Franse Ontwikkelingsagentskap het volgens berigte ‘n versoek van die Stad Johannesburg om bykomende befondsing verwerp. Volgens News24 is dit omdat die metro nie die voorwaardes van ‘n lening van 2,5-miljard-rand wat dit in 2024 van die agentskap ontvang het, nagekom het nie. Die metro sê in reaksie internasionale ontwikkelingsfinansieringsinstellings, insluitend die agentskap, het nie ‘n verpligting om Johannesburg elke finansiële jaar te befonds nie. Die AFD sê hy het geen verdere finansieringsplanne vir die metro in sy huidige jaarlikse programmeringsiklus nie.
# President Donald Trump se goedkeuringsyfer het tot die laagste vlak van sy termyn gedaal. Baie Amerikaners bevraagteken sy temperament gegewe die Iran-oorlog en sy vete met pous Leo. Die Reuters/Ipsos openbare meningsopname toon slegs 36-persent Amerikaners keur Trump se werkverrigting goed. Trump is onder druk sedert sy administrasie en Israel in Februarie ‘n oorlog teen Iran begin het wat petrolpryse skerp laat styg het. Die peiling toon baie Amerikaners, insluitend Republikeine, is bekommerd oor die 79-jarige president se temperament en geestelike toestand na ‘n reeks plofbare uitbarstings.
Rugby: ‘n Reusestryd word verwag in Saterdag se ontmoeting in Kaapstad tussen die twee topspanne in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Glasgow Warriors het ‘n voorsprong van slegs vier punte oor die Stormers met drie groepwedstryde wat oorbly, met tuis-kwarteindrondewedstryde wat op die spel is. Die Stormers het verlede naweek teen Connacht verloor terwyl Glasgow met 54-12 teen die Leeus op Ellispark verloor het. Die aanvalsafrigter van die Stormers, Dawie Snyman, sê die uitslag was as gevolg van die Leeus se goeie spel as en nie swak punte in Glasgow se spel nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-579-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-729-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 96-dollar-59-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê die voormalige KwaZulu-Natalse regterpresident, Achmat Jappie, was lank reeds ‘n voorstander van geregtigheid in Suid-Afrika, deur sy ryk bydraes tot die regspraak. Hy is gister oorlede. Jappie is in 1998 op die regbank aangestel en was adjunk-regterpresident voordat hy van 2015 tot sy aftrede in 2021 hoof van KwaZulu-Natal se howe geword het. Ramaphosa sê regter Jappie het gedurende sy 28 jaar as regter die oppergesag van die reg verskans en verseker dat die wet die belange en waardigheid van diegene wat verligting verdien, beskerm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….