Nuus 06:00
BULLETIN 16 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa reageer op Elon Musk en sê Suid-Afrikaanse wette is nie rassisties nie
# Solidariteit beweer rassebeleid beperk internettoegang
# En rugby: Jake White verlaat Selborne College na ‘n uitval met die skoolhoof
# President Cyril Ramaphosa sê hy sien bemagtigingswette as deel van die regstelling van die wanbalanse van die verlede, nie as rassistiese wetgewing nie. Hy het gereageer op miljardêr Elon Musk se bewering dat sy satelliet-internetdiens, Starlink, ‘n lisensie in Suid-Afrika geweier is omdat hy nie swart is nie. Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging vereis dat buitelandse telekommunikasielisensies 30-persent van die ekwiteit in hul plaaslike filiale aan histories benadeelde groepe moet verkoop. Ramaphosa sê honderde internasionale firmas voldoen aan die land se regulasies:
Solidariteit sê intussen Suid-Afrika se rasgebaseerde beleid beperk toegang tot bekostigbare internet, veral in plattelandse en onderbediende gemeenskappe. Die vakbond voer aan beperkings verbonde aan swart ekonomiese bemagtiging en lisensiëringsreëls, vertraag die bekendstelling van dienste soos Musk se Starlink. Dirk Hermann van Solidariteit sê miljoene mense bly uitgesluit van die digitale ekonomie weens hoë koste en swak netwerkdekking:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering sê vertroue is die hoeksteen en doelwit van die professionalisering van plaaslike regering, en daarsonder stort vermoë en dienslewering in duie. Die vereniging werk saam met die raadgewende firma The Global Trust Project om die vrywillige Trust Equity Framework in 18 deelnemende munisipaliteite regoor Suid-Afrika van stapel te stuur. Salga sê die inisiatief is bedoel om sterker munisipale betroubaarheid, verbeterde dienslewering, beter verhoudings met belanghebbendes en meer geloofwaardige plaaslike voorwaardes vir beleggings te ondersteun.
# Die Stad Tshwane het sy finansiële hoof, Gareth Mnisi, voorlopig geskors hangende die uitslag van ‘n ondersoek. Dit volg op bewerings by die Madlanga-kommissie dat hy sy posisie gebruik het om tenders aan sy voorkeurbieërs toe te ken. Hy sal na verwagting later die week voor die kommissie verskyn. Die woordvoerder van die burgemeester, Samkelo Mgobozi sê die skorsing is gemik op die beskerming van die ondersoek se integriteit:
# Australië gaan sy verdedigingsbesteding teen 2033 tot drie-persent van die bruto binnelandse produk verhoog. Dit is tans omtrent twee-persent. Dit is in reaksie op die mees komplekse en dreigende omstandighede sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die regering sê die uitbreiding sal bereik word deur ‘n bykomende 116-miljard-rand oor vier jaar en 620-miljard-rand oor die volgende dekade te bestee. Australië wil sy verdedigingsvermoëns ontwikkel te midde van kommer oor toenemende geopolitieke spanning en China en die VSA se invloed in die Indiese-Stille Oseaan. Suid-Afrika bestee ongeveer 0,7-persent van sy BBP aan verdediging.
# Rugby: Die voormalige Springbok- en Bulle-afrigter Jake White soek nuwe geleenthede nadat hy sy pos as konsultant by Selborne College in KuGompu City, voorheen Oos-Londen, in die Oos-Kaap verlaat het. Hy het ‘n rusie met skoolhoof, Andrew Dewar as rede aangevoer. Dit is dieselfde rede wat tot Derek Page se bedanking as direkteur van rugby by die skool aanleiding gegee het. White sê hy was gefrustreerd deur Dewar se gebrek aan ondersteuning vir die skool se rugbyprogram. White, wat die Springbokke tussen 2004 en 2007 afgerig het, is voorheen deur die Bulle verwyder na ‘n spelersrevolusie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-133-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-800-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….