Nuus 06:00
BULLETIN 15 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema is vol vertroue dat geregtigheid sal seëvier
# Die IMF waarsku teen ‘n wêreldwye resessie as die Midde-Oosterse konflik voortduur
# En rugby: Die Haaie kies ‘n groep van 28 spelers vir sy VRK-wedstryde
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy is vol vertroue terwyl die vonnisoplegging in sy vuurwapensaak vandag in die Oos-Londense Landdroshof begin. Hy is skuldig bevind op aanklagte wat die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, en die afvuur van ‘n vuurwapen in ‘n beboude gebied insluit. Dit is nadat hy in 2018 tydens ‘n EFF-betoging in Mdantsane ‘n vuurwapen afgevuur het. Die staat eis 15-jaar regstreekse gevangenisstraf. Malema sê die uitslag van die saak is eerder ‘n politieke straf vir sy standpunt as politikus.
# Dit is onwaarskynlik dat die Noordwes-sakeman en ANC-geaffilieerde Suleiman Carrim môre voor die Madlanga-kommissie sal getuig nadat hy in die hospitaal opgeneem is nadat hy skynbaar ‘n hartaanval by ‘n gimnasium in Sandton gehad het. Carrim sou ondervra word oor finansiële transaksies wat verband hou met die tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala. Die woordvoerder van die kommissie, Jeremy Michaels, sê die kommissie sal in ooreenstemming met sy prosedures voortgaan, en mag Carrim se dagvaarding, afhangende van sy toestand, heroorweeg:
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, het sy betrokkenheid by senior polisiebevorderings verdedig en sê alle aanstellings het behoorlike mensehulpbronprosedures gevolg wat deur die geskorste hoof Isaac Mapiyeye begin is. Mkhwanazi het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het bloot prosesse voortgesit wat reeds aan die gang was nadat hy in ‘n waarnemende hoedanigheid oorgeneem het, insluitend panele vir direkteure en inspekteurs. Mkhwanazi het ontken dat hy eensydig opgetree het en aangedring dat delegeringsreëls en rotasie van gesag toegepas is:
# Die bedrog- en korrupsiesaak teen die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Danny Jordaan, en sy medebeskuldigdes is uitgestel tot 25 Mei 2026 in die Johannesburgse Handelsmisdaadhof om die verdediging meer tyd te gee om voor te berei. Hulle berei voor om die saak van die rol te skrap. Jordaan se medebeskuldigdes sluit in SAFA se finansiële hoof, Gron Hluyo, die direkteur van Grit Communications, Trevor Neethling, en voormalige waarnemende uitvoerende hoof van SAFA, Russell Paul. Jordaan staan tereg op klagtes van bedrog van 1,3-miljoen-rand wat verband hou met die beweerde misbruik van die vereniging se fondse.
# Die Internasionale Monetêre Fonds het gewaarsku dat indien die VSA-Israel-oorlog met Iran voortduur, ‘n wêreldwye resessie veroorsaak kan word. Die IMF se jongste Wêreldekonomiese Vooruitsig voorspel dat wêreldwye groei vanjaar tot 3,1-persent sal verlangsaam, en inflasie tot 4,4-persent sal styg. Die hoofekonoom van die IMF, Pierre-Olivier Gourinchas, sê in ‘n ergste scenario, waar olie-, gas- en voedselpryse styg en hoog bly, kan wêreldwye groei tot onder twee persent daal:
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het ‘n groep van 28 spelers aangewys voor agtereenvolgende wegwedstryde teen Ospreys en Edinburgh in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Haaie sal alles moet uithaal om die uitspeelronde te haal. André Esterhuizen keer terug om die Durbanse span te lei in Saterdag se beslissende wedstryd teen Ospreys, met die span van Swansea wat tans drie punte agter die Haaie is. Siya Kolisi is terug ná ‘n besering en is ingesluit saam met die slotte Jason Jenkins en Emile van Heerden.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 74-duisend-60-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-840-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 92-dollar-22-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….