Nuus 06:00
BULLETIN 31 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika soek ‘n bykomende twee-duisend-miljard-rand
# AgriSA en Agbiz waarsku oor plattelandse brandstoftekorte
# En Iran beskryf die VSA se skietstilstandvoorstel as onrealisties
# President Cyril Ramaphosa sê die Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie het die land se voorste platform geword om beleggers te lok en volhoubare ekonomiese hervormings te vertoon. Hy sal vandag die sesde Beleggingskonferensie in Johannesburg toespreek. Die regering teiken ‘n bykomende twee-duisend-miljard-rand in beleggingsbeloftes oor die volgende vyf jaar, voortbouend op die sukses van die eerste vyf konferensies, wat gesamentlik 1,5-duisend-miljard-rand in voornemens verseker het. Ramaphosa sê die konferensie vind plaas in ‘n tyd van verbeterde beleggersvertroue, ondersteun deur vordering in belangrike strukturele hervormings, insluitend ekonomiese herstel-inisiatiewe en verbeterde energie-betroubaarheid.
# AgriSA en die Landbousakekamer doen ‘n beroep op die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne om brandstofpryse dringend aan te pas om plattelandse voorsiening te bestendig. Volgens die organisasies toon ‘n gesamentlike opname beperkte voorsiening en brandstofrantsoenering aan boere en brandstofkleinhandelaars in verskeie streke, ten spyte van versekerings dat die voorsiening bestendig bly. Die uitvoerende hoof van Agbiz, Theo Boshoff, waarsku enige brandstoftekorte tydens plant- en oestyd, kan voedselproduksie, voorsieningskettings en voedselsekerheid bedreig.
# Die GOOD-party het oudpresidente Thabo Mbeki en Jacob Zuma gevra om op te hou om regter Sisi Khampepe te probeer keer om politieke inmenging in vervolgings uit die apartheid-era te ondersoek. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Johannesburg hul aansoek van die hand gewys het om Khampepe te onttrek as voorsitter van ‘n kommissie wat die versuim ondersoek om die aanbevelings van die Waarheids- en Versoeningskommissie te implementeer. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê enige pogings om die proses te blokkeer, ondermyn geregtigheid en openbare vertroue:
# Die DA doen ‘n beroep op uitgebreide polisiëringsmagte in die Wes-Kaap om die onwettige vuurwapenkrisis aan te spreek. Dit volg na ‘n vlaag dodelike skietvoorvalle op die Kaapse Vlakte wat tot die dood van sewe mense gelei het. Benedicta van Minnen van die DA sê voorvalle in Gugulethu, Philippi-Oos en Uitsig beklemtoon die voortdurende verspreiding van onwettige vuurwapens en die mislukking om gemeenskappe teen geweldsmisdaad te beskerm:
# Iran sê die Verenigde State se 15-punt skietstilstandvoorstel bevat grootliks oormatige, onrealistiese en onredelike eise. Dit is ten spyte daarvan dat president Donald Trump beweer dat Teheran tot die meeste van die versoeke op die lys instem. Die voorstel sluit in die heropening van die Straat van Hormoes, waardeur ongeveer 20-persent van die wêreld se olie en vloeibare natuurlike gas beweeg, en die beperking van Iran se kernprogram. Die Iranse ministerie van Buitelandse Sake sê daar was geen regstreekse onderhandelinge met die VSA nie. Boodskappe van Washington is slegs deur tussengangers oorgedra.
# Tennis: Die internasionale kleibaanseisoen begin ná die twee toernooie in die Sonskyn-toer op harde bane in Amerika. Die manstoernooie begin met die ATP Masters Eenduisend-toernooie in Monte Carlo, Madrid en Rome, terwyl die vroue in die WTA Eenduisend-toernooie in Madrid en Rome, en ander geleenthede, sal meeding. Die seisoen bereik ‘n hoogtepunt met die bekendste van die kleibaantoernooie, die Franse Ope in Parys, wat aan die einde van Mei begin. Carlos Alcaraz van Spanje en die Amerikaner Coco Gauff is die verdedigende kampioene.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-720-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-512-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….