Nuus 06:00
BULLETIN 23 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom verwelkom die Amerikaanse Hooggeregshof se uitspraak teen Trump se tariewe
# ‘n Gewapende man word doodgeskiet by Trump se Mar-a-Lago-woning
# En krieket: Suid-Afrika beklink ‘n oortuigende oorwinning teen Indië in die T20-Wêreldbeker Super-8-fase
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-Universiteit, Raymond Parsons, het ‘n beslissing deur die Amerikaanse Hooggeregshof verwelkom dat president Donald Trump se wederkerige tariewe onwettig is. Hy sê dit is goeie nuus vir baie lande, insluitend Suid-Afrika, wat die afgelope tyd met ‘n aggressiewe Amerikaanse tariefbeleid moes worstel. Trump het ‘n dag nadat hy ‘n tarief van tien-persent aangekondig het, ‘n nuwe breë tarief van 15-persent ingestel vir ‘n tydperk van 150 dae, hangende goedkeuring deur die Kongres:
# Die DA het die aankoms van een-miljoen entstofdosisse verwelkom om die bek-en-klouseer-uitbreking in die land te bestry. Woordvoerder Jan de Villiers sê dit is ‘n belangrike stap om landbou-biosekuriteit en die beskerming van die lewensbestaan van boere, werkers en landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te bestendig. Hy sê boere, vervoerders, veilings en voerkrale moet biosekuriteitsmaatreëls ten volle nakom, insluitend bewegingsbeheer, sanitasieprotokolle en behoorlike rekordhouding:
# Die parlementêre gesamentlike staande komitee oor Verdediging is bekommerd oor die doeltreffendheid van die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee en die funksionaliteit van die Direktoraat vir Konvensionele Wapenbeheer. Dit hou verband met die fasilitering van ‘n gunstige regulatoriese omgewing vir die wapenbedryf. Die komitee sê ondoeltreffende optrede deur die komitee en direktoraat het ‘n regstreekse en nadelige uitwerking op maatskappye, insluitend uitvoer- en invoerverliese, afleweringstermyne wat gemis is, reputasieskade en werkverliese. Die staande komitee nooi beide dringend uit om volgende maand te verskyn.
# Die SAKP het ‘n boodskap van eensgesindheid oorgedra aan werkers wat geraak is nadat vyf mynwerkers Dinsdag in ’n modderstorting by die Ekapa-myn in Kimberley in die Noord-Kaap vasgekeer is. Die party se woordvoerder, Mbulelo Mandlana, sê die ongeluk is volgens berigte deur ʼn onverwagse modderstorting veroorsaak, maar hulle vra ʼn omvattende ondersoek na die voorval. Hy sê hulle moet vasstel of risikobepalings, waarskuwingstelsels en noodprotokolle beskikbaar en ingestel was.
# Agente van die Amerikaanse Geheime Diens het gister ‘n gewapende man doodgeskiet nadat hy na bewering onwettig president Donald Trump se Mar-a-Lago-woning in Palm Beach, Florida, betree het. Die president was ten tyde van die voorval by die Withuis. Die polisiehoof van Palm Beach County, Ric Bradshaw, sê die Geheime Diens het die man, wat in sy vroeë twintigs was, by die noordelike hek van die eiendom gesien met wat gelyk het na ‘n haelgeweer en ‘n brandstofkan:
# Krieket: Suid-Afrika het die verdedigende kampioene, Indië, met 76 lopies in hul openingswedstryd van die Super Agt-fase van die T20 Wêreldbeker in Ahmedabad geklop. Die Proteas het van 20 vir drie na vier boulbeurte herstel, met die hulp van David Miller se 63, toe hulle 187 vir sewe in hul 20 boulbeurte aangeteken het. In antwoord het Indië tot 51 vir vyf teen die tiende boulbeurt gedaal. Marco Jansen het vier paaltjies geneem toe Indië vir 111 uitgeboul is. Suid-Afrika sal Woensdag die Wes-Indiese Eilande takel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-3-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-702-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-108-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….