Nuus 06:00
BULLETIN 5 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau is bekommerd oor die kortstondige aard van die AGOA-verlenging
# AgriSA waarsku ‘n minimumloonverhoging sal druk op die sukkelende landbousektor plaas
# En die EFF gaan enige mosie van wantroue in ANC-burgemeesters of -premiers ondersteun
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die Verenigde State se besluit verwelkom om die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te verleng. President Donald Trump het die handelsooreenkoms terugwerkend van 30 September 2025 tot 31 Desember 2026 verleng, wat nie die meerjarige hernuwing is wat baie Afrika-ondernemings wou hê nie. AGOA bied belastingvrye toegang tot die Amerikaanse mark vir meer as een-duisend-800 produkte van gekose Afrika-lande suid van die Sahara. Tau het kommer uitgespreek oor die duur van die verlenging:
# Getuie F het voor die Madlanga-kommissie getuig dat die geskorste nasionale adjunkpolisiekommissaris, Shadrack Sibiya, deur die destydse adjunk-polisieminister Cassel Mathe onder druk geplaas is om voort te gaan met die arrestasie van die blogger Musa Khawula vir die beweerde belediging van die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula. Getuie F sê Sibiya het bevestig hy het opdragte vanaf iemand in ‘n ‘hoë amp’ ontvang en die saak is as dringend beskryf, met die klaers wat Mbalula en nog ‘n individu insluit:
# AgriSA sê die nasionale minimum loon se verhoging bo inflasie wat vanaf volgende maand op 30-rand-23-sent per uur bepaal is, kan ekstra druk op werksgeleenthede en plaasvolhoubaarheid plaas. Die organisasie sê landbou sukkel reeds met droogte, siekte-uitbrekings en klimaatsuitdagings. Die uitvoerende hoof van AgriSA, Johann Kotzé, doen ‘n beroep op die regering om dieregesondheidstelsels te versterk, uitvoerbeperkings te verlig en insetkoste te verminder om werk, landelike lewensbestaan en voedselsekerheid te beskerm.
# EFF-leier Julius Malema sê sy party sal nie die komende Gautengse begroting ondersteun nie en steun alle mosies van wantroue teen ANC-burgemeesters of premiers. Malema het verwys na die ANC se beweerde disrespek en eensydige gedrag, veral in Ekurhuleni, Gauteng. Malema waarsku die ANC se weiering om met respek met ander partye saam te werk, ondermyn kiesers se belange en sê die EFF sal sy mandaat in alle politieke prosesse verdedig:
# Ten minste 20 mense, insluitend ses kinders en sewe vroue, is in die jongste Israelse lugaanvalle in Gaza dood. Byna 40 is gewond. Die Israelse weermag sê hulle voer presiese aanvalle uit teen wat hulle terroriste noem wat op soldate in die noorde van die strook losgebrand het en ‘n reservis ernstig gewond het. Hamas het Israel beskuldig dat hulle die skietery as ‘n flou verskoning gebruik om die voortsetting van moord en aggressie teen Palestyne te regverdig. Daar is meer as 500 mense dood in Israelse aanvalle sedert die wapenstilstand in Oktober begin het.
# Krieket: Die laaste T20 tussen die Protea-vroue en Pakistan op die 16de, sal nou in Benoni, Gauteng, gespeel word nadat dit van Kimberley verskuif is. Die Noord-Kaapse hoofstad se krieketveld het nie aan die vereiste internasionale norme en standaarde vir wedstrydgereedheid voldoen nie. Krieket Suid-Afrika sê omvattende inspeksies die afgelope maand het verskeie kernbelangrike tekortkomings bepaal wat verband hou met die speeloppervlakte, die buiteveld, oefenfasiliteite en algehele voldoening. Die eerste T20 vind Dinsdag in Potchefstroom plaas en die tweede volgende Vrydag ook in Benoni.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-394-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-987-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….