Nuus 06:00
BULLETIN 16 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie kritiseer die DA se waninligting oor Mcebisi Jonas
# Minister Creecy ontbind die raad van die Padongelukkefonds
# En rugby: Etzebeth sal Saterdag sy toetsrekord tot 133 wedstryde verbeter
# Die Presidensie veroordeel wat hy bestempel as die DA se teistering van die Spesiale Gesant na Noord-Amerika, Mcebisi Jonas. Die DA beweer die VSA het in Mei Jonas se diplomatieke visum geweier en sy geloofsbriewe verwerp. Die Presidensie sê dit is ‘n feit dat spesiale gesante nie diplomatieke geloofsbriewe aan gasheerlande voorlê op dieselfde wyse as aangewese hoofde van sendings of ander diplomate nie. Die Presidensie waarsku die publiek om nie die waninligting van die DA oor internasionale betrekkinge en diplomasie as amptelike regeringsbeleid te aanvaar nie.
# Die ANC sê kommissies van ondersoek is noodsaaklike hulpmiddels vir geregtigheid, hervorming en die waarheid, veral as politieke inmenging of institusionele mislukkings die wetstoepassing belemmer. Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula noem die Staatskapingskommissie, wat gelei het tot meer as 14-miljard-rand in bates wat bevries is, 5,4-miljard-rand waarop beslag gelê is, en meer as 60 vervolgings. Hy vra dat behoorlike prosesse gerespekteer word, waarsku teen media-verhore en moedig die publiek aan om onafhanklike, grondwetlike meganismes te ondersteun:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die Padongelukkefonds se raad ontbind, weens bestuursmislukkings en operasionele onbestendigheid. Daar is kommer oor die uitvoerende hoof Collins Letsoalo se skorsing wat roekeloos hanteer is, duur litigasie en die versuim om kritieke uitvoerende rolle te vul. ‘n Tussentydse rekeningkundige gesag sal aangestel word, en ‘n nuwe raad word tans saamgestel. Die woordvoerder, Collen Msibi, sê die herstel van bestendigheid en slagofferondersteuning moet voorop gestel word:
# Die DA in KwaZulu-Natal is reg om ‘n mosie van wantroue in te stel teen die leierskap van eThekwini wat nie vloedslagoffers gehelp het nie. Die party beskuldig die stad dat hulle kwesbare inwoners uit skuilings verwyder en hulle gedwing het om op straat te slaap, wat ‘n duidelike skending van menseregte is. Thabani Mthethwa van die DA dring aan op die verwydering van die stadsbestuurder, Musa Mbhele, die burgemeester, Cyril Xaba, en ander amptenare vir swak dienslewering en vloedverligtingspogings wat doodgeloop het:
# Die minister van Buitelandse Sake van Rusland sê hy is seker dat Moskou enige nuwe sankies vanuit Amerika sal kan hanteer. Sergei Lavrov het tydens ‘n vergadering by die Shanghai-organisasie in China, gesê Rusland sal graag wil sien wat agter Trump se verklarings skuil. Hy sê dit is nou 50 dae, maar dit was ook al 24 uur, terwyl daar voorheen ook van 100 dae gepraat is. Die Russiese minister het ook gesê hy verstaan dat daar reusedruk deur die EU en die NAVO-leierskap op die VSA uitgeoefen word.
# Rugby: Die slot Eben Etzebeth sal Saterdag sy rekord as die mees ervare Springbok na 133 toetse opskuif nadat hy in die opdrafspan gekies is vir die wedstryd teen Georgië in Mbombela. Ruan Nortjé sal sy slotmaat wees. Die vleuel Kurt-Lee Arendse kan ‘n mylpaal van 100-punte vir Suid-Afrika bereik as hy slegs een drie druk. Die wedstryd is die derde tussen die twee lande. Die Bokke het Georgië 46-19 geklop in die groepsafdeling van 2003 se Wêreldbekertoernooi in Australië, en weer 40-9 in Pretoria in 2021.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-621-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….