Nuus 06:00
BULLETIN 23 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê Suid-Afrika se G20-presidentskap was baie suksesvol
# Volodymyr Zelensky kritiseer Europa se geradbraakte benadering tot globale uitdagings
# En rugby: Sacha Feinberg-Mngomezulu is die enigste Suid-Afrikaner op die kortlys van die 2026 Kampioenebeker
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap was baie suksesvol en het die G20 se oorspronklike mandaat voortgesit om sterk, volhoubare, gebalanseerde en inklusiewe groei te bevorder. Die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, het die media ingelig oor die toepassing van Suid-Afrika se 2025 G20-presidentskap onder die tema, From Declaration to Implementation. Godongwana sê die belangrikste prestasie was die ondersteuning van die G20 ministeriële verklaring oor skuldvolhoubaarheid:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê die naskoolse onderwys- en opleidingsektor beskik oor ongeveer 535-duisend befondsde en beplande plekke by universiteite, TVET- en gemeenskapskolleges, vaardigheidsprogramme en instelling met indiensopleiding. Manamela het verduidelik dat goeie uitslae nie noodwendig toelating vir universiteit- of programplasing waarborg nie. Hy het sê instellings laat beperkte getalle toe gebaseer op vaardigheidsbehoeftes en beskikbare hulpbronne:
# Die Appèlhof het die Suid-Afrikaanse Erfenisbronne-agentskap se appèl van die hand gewys om die verkoop van items wat verband hou met wyle oudpresident Nelson Mandela te keer. Die hof het die uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria ten gunste van Makaziwe Mandela en voormalige tronkbewaarder, Christo Brand gehandhaaf. Die hof het beslis die items kwalifiseer nie outomaties as nasionale erfenisvoorwerpe nie en dat die eienaars se grondwetlike eiendomsregte nie sonder duidelike bewyse beperk kan word nie. Die appèl is met koste van die hand gewys.
# Die Rampbestuursentrum van Gauteng het sy Stedelike Soek- en Reddingspan ontplooi om Limpopo en Mosambiek te ondersteun na die ernstige oorstromings in die streek. Die multi-agentskapspan sluit brandweer, mediese nooddienste en ander belanghebbendes in, en het onlangs medium klassifisering in die VN se Internasionale Soek- en Reddingsadviesgroep behaal. Die fokus is op soek-, redding- en herwinningsoperasies, insluitend vermiste persone. Die ontplooiing weerspieël grondwetlike verpligtinge, die Wet op Rampbestuur en verbintenisse deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, wat Gauteng se rampgereedheid en streeksolidariteit beklemtoon.
# Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het Europa beskryf as ‘n gefragmenteerde kaleidoskoop van klein en middelmatige moondhede sonder ‘n duidelike plan om Rusland te konfronteer of hulself te verdedig. Hy het by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland gepraat. Hy sê Europa praat graag oor die toekoms, maar vermy aksie vandag. Zelensky sê Europa voel steeds soos ‘n geografiese gebied, ‘n stuk geskiedenis, of ‘n tradisie, en nie soos ‘n werklike politieke mag, of groot moondheid nie:
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu bly opspraak maak in Europese rugby en het ‘n welverdiende plek verseker as een van die tien benoemings vir die 2026 Investec Kampioenebeker se Speler van die Jaar. Die 23-jarige Stormers-speler is die enigste Suid-Afrikaner wat benoem is. Hy het in die groepfases van die toernooi deurentyd aandag getrek. Sy leierskap op die veld en strategiese spel het ook gehelp om die Stormers se groepsveldtog te bepaal. Sacha is ook op die kortlys vir die SA Rugbyspeler van die Jaar- en Jong Speler van die Jaar-toekennings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-100-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-951-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….