Nuus 06:00
BULLETIN 21 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Robert McBride sê Misdaadintelligensie is deurspek met korrupsie
# Cosatu striem die regering oor die goedkeuring van ‘n salarisverhoging vir politici
# En president Macron waarsku teen ‘n verskuiwing na ‘n wêreld sonder reëls
# Die voormalige hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Robert McBride, sê die fondse wat aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Misdaadintelligensie-eenheid toegeken is, is deurspek met onbehoorlike optrede en korrupsie. Hy het getuig voor die parlementêre ad hoc-komitee wat bewerings van kriminele infiltrasie en politieke inmenging in die regstelsel ondersoek. McBride sê Misdaadintelligensie se teenintelligensie-eenheid het die mandaat om sy eie lede te ondersoek, nie eksterne misdaadnetwerke nie:
# Die vakverbond Cosatu is ontsteld oor die 2026-salarisverhoging vir politici, provinsiale wetgewers en munisipale raadslede. Die verhoging van 3,8-persent is effens minder as die voorgestelde 4,1-persent. Dit volg egter terwyl voorstelinie-werkers en munisipale personeel betalingsvertragings en besparingsmaatreëls moet trotseer. Matthew Parks van Cosatu sê die verhoging stuur die verkeerde boodskap aan Suid-Afrikaners. Parks vra toekomstige salarisverhogings moet met prestasie verband hou met openbare insette voor dit goedgekeur word:
# Die Mededingingskommissie verwelkom die Konstitusionele Hof se besluit om Takata Suid-Afrika se aansoek om teen ‘n vorige uitspraak van die Mededingingsappèlhof te appelleer, van die hand te wys. Die saak spruit uit 2018, toe Takata en sy voormalige Suid-Afrikaanse filiaal na die Mededingingstribunaal verwys is oor 21 gevalle van beweerde prysvasstelling, markverdeling en samespannende tenders. Alle vorige appèlle was onsuksesvol. Siyabulela Makunga van die kommissie sê die saak teen Takata SA sal nou voortgaan en op meriete deur die Tribunaal aangehoor word.
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sê die bestuurder wat betrokke is by die dodelike leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark waarin 12 leerders dood is, se openbare bestuurderspermit het in November verlede jaar verval. Lesufi het tydens ‘n media-inligtingsessie bevestig die provinsiale regering voer intensiewe kontroles uit op alle leerdervervoervoertuie en -bestuurders, en vyf mense is tot dusver in hegtenis geneem, insluitend drie vir omkopery:
# Die Franse president Emmanuel Macron het gewaarsku teen ‘n verskuiwing na ‘n wêreld sonder reëls, waar internasionale reg vertrap word, en die enigste reël wat geld, die oorheersing van die sterkste is. Hy het gister by die Wêreld Ekonomiese Forum se jaarlikse vergadering in Davos gepraat. Macron het die eindelose ophoping van nuwe tariewe gekritiseer wat wesentlik onaanvaarbaar is, veral wanneer dit as hefboom teen territoriale soewereiniteit gebruik word. Hy sê sonder kollektiewe regering maak samewerking plek vir meedoënlose mededinging.
# Krieket: SA20 se vierde seisoen het die skerpkant bereik. Die twee spanne wat bo-aan die punteleer, tweemalige kampioene Sunrisers Eastern Cape, en Pretoria Capitals speel vandag in Durban in die eerste kwalifiseringswedstryd. Die wenner gaan direk deur na Sondag se eindstryd in Kaapstad, terwyl die verloorder nog ‘n kans kry in Vrydag se tweede kwalifiseringswedstryd by die Wanderers in Johannesburg. Hulle sal môre teen die wenner van die uitspeelwedstryd tussen die derde en vierde geplaaste spanne, die Paarl Royals en Johannesburg Super Kings, in Centurion te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-252-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-759-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….