Nuus 06:00
BULLETIN 13 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die matriekklas van 2025 behaal ‘n slaagsyfer van 88-persent
# Die Madlanga-kommissie hervat sy openbare verhore op 26 Januarie
# En motorsport: Twee Suid-Afrikaners oorheers die agtste skof van Dakar
# Die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-slaagsyfer is 88-persent, ‘n toename van 0,7-persent vanaf die 87,3-persent in 2024. Dit is die hoogste in die geskiedenis. Die provinsie wat die beste presteer het, is KwaZulu-Natal met 90,6-persent, gevolg deur die Vrystaat met 89,33-persent en Gauteng in die derde plek met 89,06-persent. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê meer as 900-duisend kandidate het die eksamen geskryf, die grootste klas in die geskiedenis van die NSS-stelsel:
Gwarube, is voorts bekommerd oor die aantal leerders wat uitval, veral namate hulle na graad 11 en 12 oorskakel. Sy sê as leerders die skool voor graad 12 verlaat, lewer die stelsel nog nie gehalte op skaal nie, ongeag hoe sterk die finale slaagsyfer is:
# Die Madlanga-kommissie, wat misdaad, korrupsie en politieke inmenging in die strafregtelike stelsel ondersoek, hervat sy openbare verhore op 26 Januarie. Die kommissie het verlede maand sy tussentydse verslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig. Fase twee maak voorsiening vir reaksies op bewerings, terwyl die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi en sy ondersteunende getuies tydens fase drie teruggeroep sal word. Jeremy Michaels van die kommissie sê talle getuies sal oor die volgende paar maande verskyn:
# Die Stad Johannesburg het optrede teen beweerde eiendom-kaping en onwettige besetting in Bryanston verskerp. Dit volg na ‘n klopjag op ‘n woning in dieselfde gebied waar Lawrence Ramalwa in hegtenis geneem is vir die kaping en verhuring van onwettige eiendomme. Twee duur eiendomme word ondersoek, een vir oorbesetting en onwettige grondgebruik, en ‘n ander vir kaping, met munisipale agterstallige skuld van ongeveer een-miljoen-rand. Onwettige water en elektrisiteit is afgesny, en twee onwettige inwoners word aangehou.
# ‘n Switserse hof het Maandag opdrag gegee dat die mede-eienaar van ‘n kroeg in die luukse Crans-Montana ski-oord waar 40 mense op Nuwejaarsdag in ‘n brand dood is, in aanhouding moet bly. Die hof sê Jacques Moretti sal voorlopig vir drie maande aangehou word, maar dit kan hersien word indien maatreëls, soos ‘n sekuriteitsdeposito, getref word om sy vlugrisiko te beperk. Aanklaers het aanvanklik Vrydag opdrag gegee dat Moretti aangehou word, na ‘n lang verhoor met hom en sy vrou, Jessica.
# Motorsport: Toyota het ‘n Suid-Afrikaner in eerste en tweede plek gelewer in die agtste skof van die Dakar-tydren toe Saood Variawa gewen het met Henk Lategan tweede. Variawa was net drie sekondes vinniger as sy landgenoot en het die 45 sekonde-agterstand by die laaste kontrolepunt voor die wenstreep ingehaal. Mattias Ekström van Swede met sy Ford was met 29 sekondes agter Variawa derde. Dit was Variawa se tweede skofoorwinning in sy kort Dakar-loopbaan, na sy deurbraak-oorwinning in 2025.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-180-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-584-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….