Nuus 06:00
BULLETIN 7 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Suid-Afrikaners gerus oor ‘n Amerikaanse inval
# Die ANC-jeugliga wil ‘n ramptoestand hê oor jeugwerkloosheid
# En die Gautengse Onderwysdepartement vra vir geduld met laaste leerderplasings
# President Cyril Ramaphosa sê hy is nie bekommerd oor ‘n inval in Suid-Afrika nie. Dit volg op die VSA se militêre operasie in Venezuela, wat gelei het tot die arrestasie van Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores. Die optrede is gekritiseer as ‘n ondermyning van ‘n fundamentele beginsel van internasionale reg. Ramaphosa sê sulke eensydige optrede skep ‘n gevaarlike presedent:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het sy appèlproses vir die 2026 akademiese jaar verfyn. Die waarnemende raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, het met verwysing na NSFAS se gereedheid gesê die appèlvenster sal onmiddellik oopmaak nadat die bevindings van die aansoek deurgegee is. Die finale sperdatum vir appèlle is volgende Woensdag, met bevindings wat teen volgende Vrydag verwag word:
# Die president van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, het president Cyril Ramaphosa versoek om ‘n ramptoestand oor jeugwerkloosheid te oorweeg, en om op te tree teen onbevoegde ministers en uitvoerende hoofde van staatsondernemings. In die derde kwartaal van 2025 was die persentasie jongmense tussen 15 en 34 jaar oud wat nie in diens, of besig met onderwys of opleiding was nie, 42,7-persent. Dit vergelyk met ‘n algehele nasionale werkloosheidsyfer van 31,9-persent vir die tydperk. Malatji sê daar is hulpbronne, maar daar is geen politieke wil nie.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, sê slegs vier-duisend-858 graad een- en graad agt-leerders is steeds nie geplaas vir die 2026-skooljaar nie. Die meeste is in Ekurhuleni en Johannesburg. Laat aansoeke is nog tot 30 Januarie oop, saam met daaglikse plasings. Ekurhuleni-Noord het die hoogste aantal ongeplaasde leerders met een-duisend-741. Steve Mabona van die Departement sê bestendige vordering word gemaak en appèlle word gefinaliseer:
# Krieket: Travis Head glo hy sal aanbly as Australië se aanvangskolwer na sy skittervertoning in die reeks om die As teen Engeland. Hy het gister in die laaste toets in Sydney sy derde honderdtal van die reeks aangeteken nadat hy die rol in die eerste toets in Perth oorgeneem het toe Usman Khawaja beseer is en sedertdien uitgetree het. Head het daardie wedstryd help wen met 123 in die tweede beurt, en dit opgevolg met 170 in Adelaide voor sy 163 op die SCG vir sy 12de toetshonderdtal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-390-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-498-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….