Nuus 06:00
BULLETIN 18 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Binnelandse Sake bevestig sewe gearresteerde Keniaanse burgers het op hul eie die land verlaat
# CrisisOnCall vra vir verantwoordelike reiskeuses met stygende sterftes tydens die feestyd
# En AfriForum loof die onttrekking van die steenkoolmynprojek naby die Krugerwildtuin
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê die sewe Keniaanse burgers wat by ‘n Amerikaanse vlugtelingsentrum in Johannesburg in hegtenis geneem is, het uit hul eie die land verlaat. Hulle is gevind terwyl hulle met toeristevisums onwettig in die land gewerk het. Schreiber sê die teenwoordigheid van buitelandse amptenare wat blykbaar ongedokumenteerde werkers koördineer, laat ernstige vrae ontstaan oor voorneme en diplomatieke protokol:
# Die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het kommer uitgespreek oor haar veiligheid nadat sy haar oorlede lewensmaat, Richard Foxton se boedel betwis het. In ‘n onderhoud voor die Meester van die Hooggeregshof in Johannesburg sê Madonsela daar was ‘n meedoënlose mediaveldtog teen haar en beweer daar is onreëlmatighede in hoe die boedel hanteer is. Sy beweer Foxton se kinders en die boedeleksekuteur het probeer om ‘n ongeldige dokument op haar af te dwing, wat haar regstappe laat neem het:
# Die nooddiens, CrisisOnCall, vra Suid-Afrikaners om hierdie feestyd te midde van die toenemende padsterftes, verantwoordelik te reis. Die organisasie sê Desember is een van die gevaarlikste tye, met 28 mense wat reeds in die eerste week van die vakansie in die Wes-Kaap alleen dood is. Dronkbestuur, spoed en roekelose gedrag bly die hoofoorsake. Ruan Vermaak van die organisasie waarsku dat een swak besluit tot ernstige beserings, lewensverlies of langtermyn-gevolge vir gesinne kan lei.
# AfriForum sê die voorgestelde steenkoolmyn naby die suidelike grens van die Krugerwildtuin is teruggetrek na jare se openbare teenkanting. Die omgewingsbeoordeling, mynregte, afvalbestuur en watergebruiksaansoeke deur Tenbosch Mining is almal beëindig. Marais de Vaal van AfriForum doen ‘n beroep op die regering om strenger toesig te verseker vir toekomstige mynbou-aansoeke in ekologies-sensitiewe gebiede:
# Venezuela, wat van die wêreld se grootste oliereserwes het, het die VSA beskuldig dat hy probeer om sy hulpbronne te steel deur middel van oorlogsugtige dreigemente. Dit volg nadat president Donald Trump ‘n totale en volledige blokkade van alle olietenkskepe wat Venezuela binnekom en verlaat, gelas het. Sedert September het die Amerikaanse weermag minstens 90 mense doodgemaak met sy aanvalle op bote wat na bewering fentaniel en ander onwettige dwelms na die VSA vervoer het. Venezuela het sy soewereiniteit oor alle natuurlike hulpbronne en sy reg op vrye handel in die Karibiese See bevestig.
# Krieket: Die Australiese paaltjiewagter Alex Carey glo ook dat hy wel die bal getref het toe daar gister tydens die eerste dag van die derde Toets om die As teen Engeland in Adelaide beslis is dat hy nie uit is nie. Die Engelse is woedend omdat die tegnologie ‘n ooglopende hou voor die vangskoot gemis het. Carey het op daardie stadium 72 lopies gehad en het aangehou vir ‘n totaal van 106 op sy tuisveld. Engeland se boulafrigter, David Saker, sê dit is nie die eerste keer in die reeks dat die besoekers sleg onder die tegnologie deurloop nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 22-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-115-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-338-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….