Nuus 06:00
BULLETIN 8 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê daar sal geen gesprekke oor opvolging by die ANC Nasionale Algemene Raad wees nie
# AfriForum vra vir die dringende plasing van meer as 40-duisend leerders in Gauteng
# En rugby: Die Blitsbokke klop Argentinië om agtereenvolgende Kaapstad-titels te verower
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het herhaal dat leierskapskwessies nie hierdie week tydens die party se vierdaagse Nasionale Algemene Raad in Boksburg bespreek sal word nie. Daar was bewerings van ‘n komplot om president Cyril Ramaphosa te ontsetel. Mbalula het gister tydens ‘n inligtingsessie gesê hierdie bewerings sal die ANC nie afskrik nie, hulle is sterk gefokus op ‘n suksesvolle Nasionale Algemene Raad:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, waarsku reisigers om nie misdaad by Suid-Afrika se grensposte te pleeg nie, want hulle sal opgespoor en in hegtenis geneem word. Hy sê verbeterde wetstoepassingsoperasies begin Woensdag en sal tot 15 Januarie 2026 voortduur. Hy het bygevoeg maatreëls sal verskerp word om dwelms, onwettige goedere en gesteelde voertuie op te spoor en te konfiskeer:
# Die Adviespaneel van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging het die datums aangekondig vir onderhoude met kandidate vir die pos van Nasionale Direkteur. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê ses kandidate is op die kortlys vir onderhoude die week in Lynnwood Manor, Pretoria, voor Shamila Batohi se termyn in Januarie ten einde loop. Hy sê daar sal Woensdag onderhoude gevoer word met advokate Nicolette Bell, Adrian Mopp en Andrea Johnson, met advokate Xolisile Khanyile, Hermione Cronje en Menzi Simelane se onderhoude wat Donderdag plaasvind.
# AfriForum sê die Gauteng Onderwysdepartement se onvermoë om die plasing van graad 1- en graad 8-leerders vir die 2026 akademiese jaar te voltooi, stuur af op ‘n ramp wat ernstige onsekerheid onder ouers en leerders veroorsaak. Carien Bloem van AfriForum sê meer as 40-duisend-500 leerders is steeds in die duister oor waar hulle volgende jaar hul laer- of hoërskoolloopbaan gaan begin. Sy sê die organisasie vra vir die dringende plasing van leerders:
# Die stad Kremenchuk in sentraal-Oekraïne is oornag deur tientalle Russiese hommeltuie en missiele aangeval, wat krag- en wateronderbrekings veroorsaak het. Die stad aan die Dnipro-rivier, 259 kilometer van die hoofstad, Kiëf, is ‘n belangrike industriële kern en die terrein van een van Oekraïne se grootste olieraffinaderye. Die oornag-aanval het plaasgevind terwyl die VSA voortgaan met pogings om ‘n oplossing vir die konflik te vind, met die leiers van Oekraïne, Duitsland, Brittanje en Frankryk wat vandag in Londen byeenkom om oor vordering met die onderhandelinge te beraadslaag.
# Rugby: Die Springbok-sewes het Argentinië naelskraaps met 21-19 geklop om die eerste span te word wat die Kaapstadse Wêreldsewesreekstitel suksesvol verdedig. Suid-Afrika het ‘n drie in die laaste minuut gedruk om die oorwinning te beklink en die naweek as die enigste onoorwonne manspan by die Kaapstad-stadion afgesluit. Fidji het Frankryk met 26-19 verslaan om derde te eindig. In die vroue-eindronde het Australië ‘n oorwinning van 26-12 teen Nieu-Seeland behaal. Springboksewes-kaptein Impi Visser sê hy is trots op hul vertoning in die wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-70-sent teen die euro en 22-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-970-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-204-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….