Nuus 06:00
BULLETIN 3 Desember 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu sê die politieke moorde-taakspan was nooit ‘n permanente polisie-eenheid nie
# Die EFF ondersteun ‘n komitee om die kantoor van die Presidensie aanspreeklik te hou
# En krieket: Die Proteas moet vandag wen om die eendagreeks teen Indië te red
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu sê die taakspan vir politieke moorde was nooit ‘n permanente eenheid binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie. Mchunu, wat tans met spesiale verlof is, het gister voor die Madlanga-kommissie in Pretoria verskyn en sal Donderdag sy getuienis voortsit. Mchunu het aan die kommissie gesê dit het hom vyf maande geneem om die Departement ten volle te verstaan voordat hy in Desember verlede jaar ingrypende stappe gedoen het om die taakspan te ontbind:
# Die EFF sê hy ondersteun die stigting van ‘n portefeuljekomitee om toesig te hou oor die werk van die Presidensie. Die Nasionale Vergadering het gister nuwe reëls aangeneem om so ‘n komitee te stig waar die begroting van die Presidensie onder die loep geneem kan word, en die president en adjunkpresident een keer per jaar rekenskap kan gee oor belangrike beleidsake. Nontando Nolutshungu van die EFF het die belangrikheid beklemtoon van die stigting van ‘n spesifieke komitee om die kantoor van die Presidensie aanspreeklik te hou:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê die totale aanpassingsbegroting vir die provinsie is 3,3-miljard-rand, ondersteun deur oordragte en nasionale en provinsiale bydraes. Hy het gister die Gautengse Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring en Aanpassingsbegroting voorgelê. ‘n Totaal van 2,2-miljard-rand word by die hoofbegroting van 2025/2026 gevoeg. Maile sê die aanbieding van die onlangse G20-leiersberaad het meer as een-miljard-rand vir die provinsiale koffers verdien:
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake sê onder president Donald Trump se leierskap sal die G20 terugkeer na sy kernmissie om ekonomiese groei en voorspoed te dryf om resultate te lewer. Amerika het die G20-presidentskap van Suid-Afrika oorgeneem. Die departement sê hy sal op drie kerntemas fokus, naamlik die vrystelling van ekonomiese voorspoed deur die inperking van regulatoriese beperkings, die opstel van bekostigbare en veilige energievoorsieningskettings, en baanbrekerswerk met nuwe tegnologieë en innovasies. Die VSA sal die eerste G20 Sherpas-vergadering in Washington op 15 en 16 Desember aanbied.
# Krieket: Die Proteas verkeer onder druk om die eendagreeks teen Indië te red wanneer die voorlaaste van die drie kragmetings vandag in Raipur plaasvind. Die gasheer het Sondag se eerste wedstryd in Ranchi met 17 lopies gewen toe die besoekers net-net nie kon uitkom by die reuse-wenteiken van 350 nie. Die Proteas het pas die toetsreeks 2-0 gewen, maar albei witbalreekse teen Pakistan verloor voor hulle na Indië verskuif het. Die laaste eendagwedstryd word Sondag in Visakhapatnam gespeel, gevolg deur drie T20s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 22-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-638-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-207-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Die Kaapstadse Sewes-ondersteuner-staproete bied kaartjiehouers hierdie naweek ‘n veilige staproete tussen die middestad en DHL-stadion tydens die HSBC Sewes-toernooi. Die staproete begin naby die Burgersentrum en die Thibault-busstasies en verbind met die stadion op ‘n ander roete wat ook skakel na die V-en-A Waterkant. Organiseerders moedig ondersteuners aan om gebruik te maak van die staproete of die gratis MyCiTi-pendeldienste, aangesien daar nie parkering by die stadion beskikbaar is nie en daar sal padsluitings ook wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….