Nuus 06:00
BULLETIN 25 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die G20-sukses bewys dat Suid-Afrika kan presteer
# Putin sê die VSA se vredesplan kan tot die einde van die oorlog lei
# En rugby: Die Bokke en Wallis het albei verswakte spanne vir Saterdag
# Business Leadership South Africa sê die suksesvolle aanbieding van die G20- en B20-beraad bewys dat Suid-Afrika op die globale verhoog kan presteer. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof van BLSA, Busisiwe Mavuso, gesê die vergaderings het die nasie se vermoë beklemtoon om ingewikkelde internasionale gebeure te koördineer, terwyl die leiers se verklaring nou ooreengestem het met B20-aanbevelings oor Afrika-ontwikkeling, handel en belegging. Mavuso waarsku egter dat die regering die oppergesag van die reg en strafreg moet versterk om globale erkenning in blywende beleggersvertroue en groei te omskep.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê graad vier-leerders het begin met die moedertaalgebaseerde tweetalige onderwysassesserings. Leerders word vandag in natuurwetenskap en tegnologie getoets, met wiskunde-assessering wat vir môre geskeduleer is. Die woordvoerder van die Ministerie, Terence Khala, sê die program, wat nou in byna 12-duisend skole landwyd geïmplementeer is, mik daarna om geletterdheid, syfervaardigheid en begrip te versterk deur leerders in hul huistaal saam met Engels te onderrig:
# Die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi sê die geskorste Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andrew Chauke, het sonder wettige magtiging opgetree in die vervolging van voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Johan Booysen. Die voorsitter van die ondersoek, afgetrede regter Bess Nkabinde, het Batohi gedruk om te verseker dat haar getuienis haar bewerings direk ondersteun. Terwyl sy getuig het by die Pretoriase ondersoek na Chauke se geskiktheid om die amp te beklee, het Batohi gesê Chauke het na bewering probeer om Booysen te dwing om ‘n aanklag in die omstrede Cato Manor-saak te onderteken:
# Die DA sê die Tshwane-speaker gaan ‘n ondersoekverslag oor die sakebedrywighede van die ANC-adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, by Donderdag se raadsvergadering ter tafel te lê. Volgens ‘n forensiese verslag het Modise voordeel getrek uit ‘n sekuriteitskontrak met die munisipaliteit deur ‘n maatskappy, Triotic Protection Services, waarby hy betrek word. Jacqui Uys van die DA sê Modise se versuim om sy belang in Triotic bekend te maak en te onttrek, kom neer op bedrieglike gedrag:
# Rusland sê die VSA se voorstel om die oorlog in Oekraïne te beëindig, kan die basis vorm vir ‘n finale vredesooreenkoms. ‘n Vredesplan van 28 punte wat deur Amerikaanse en Russiese amptenare opgestel is, bevoordeel na bewering verskeie van Moskou se langdurige eise. Dit het tot kommer in Kiëf en by sy Europese bondgenote gelei. Die Russiese president Vladimir Putin sê die weergawe van die plan wat hy gesien het, is in lyn met die gesprekke by die VSA-Rusland-beraad in Alaska vroeër vanjaar.
# Rugby: Suid-Afrika en Wallis sal albei Saterdag die toets in Cardiff met verswakte spanne aanpak. Die kragmeting val buite die internasionale venster en baie spelers is toegelaat om na hul klubs terug te keer. Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sal slegs sowat 24 spelers hê om van te kies en die Walliese afrigter Steve Tandy is 13 spelers kwyt. Wallis het teen Japan gewen, maar hoop nou om te herstel van hulle nederlaag teen die All Blacks – hulle eerste tuiswedstryd in meer as twee jaar – en die Bokke hoop op nog ‘n onoorwonne toer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-516-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….