Nuus 06:00
BULLETIN 19 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s erken Suid-Afrika se voorlopige tekens van fiskale groei
# Brown Mogotsi sê hy het ‘n regstreekse lyn na Senzo Mchunu gehad
# En rugby: Robbie Henshaw sê die Bokke is tans op almal se lippe in die rugbywêreld
# Die internasionale graderingsagentskap Moody’s het die voorlopige tekens van fiskale verbetering in Suid-Afrika erken, maar waarsku dat die land steeds ‘n opdraande stryd het om sy openbare finansies op ‘n stewig volhoubare grondslag te plaas. Volgens die Nasionale Tesourie het sterker as verwagte belastinginkomste uit BTW, korporatiewe inkomstebelasting en ander kategorieë die regering toegelaat om sy fiskale verwagtinge vir 2025/2026 effens te verlig. Moody’s sê volhoubare fiskale vordering sal ‘n dinamiese en veerkragtige belastingbasis en ‘n toename in ekonomiese groei tot twee persent teen 2028 vereis.
# President Cyril Ramaphosa sê die opening van Ivanplats se Platreef-myn tydens die week waarin die G20-beraad plaasvind, is ‘n trotse teken van Suid-Afrika se bestendige ekonomiese herstel. Ramaphosa prys die projek as volhoubaarheid in werking, en loof die leiers, aandeelhouers en werkers met die lewering van ‘n wêreldklas-bedryf. Hy sê hierdie mylpaal bied ‘n blik op ‘n positiewe toekoms vir Suid-Afrika se mynbou:
# Die voormalige lid van die ANC in die Noordwes, Brown Mogotsi het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het ‘n regstreekse lyn na polisieminister Senzo Mchunu en het selfs al sy woning besoek. In getuienis voor die Madlanga-kommissie in Pretoria het Mogotsi gesê hy het Mchunu hoofsaaklik op “ANC-dag” gekontak wanneer alle lede beskikbaar is, andersins kommunikeer hy deur Mchunu se stafhoof, Cedric Nkabinde:
# Die DA in die Wes-Kaap het nuwe leiers vir die George-munisipaliteit aangekondig. Dit volg op die vorming van ‘n nuwe veelparty-koalisie tussen die DA, Vryheidsfront Plus en die ACDP. Browen Johnson van die DA sal oorneem as burgemeester, met Gert van Niekerk van die VF Plus as onderburgemeester, en die voormalige burgemeester, Jackie von Brandis as hoofsweep. Die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, sê die ACDP sal ook die posisie van Korporatiewe Dienste beklee in die burgemeesterskomitee:
# Die Louvre-museum het een van sy galerye tydelik gesluit weens strukturele swakhede. Dit volg slegs weke na ‘n rooftog by die Paryse baken, waartydens historiese juwele ter waarde van meer as 1,7-miljard-rand verdwyn het. Die Campana-galery, wat nege kamers met antieke Griekse keramiek op die eerste verdieping huisves, is gesluit omdat die strukture, wat in die 1930’s ontwerp is, in ‘n haglike toestand is. Voor die rooftog het die museum se hoofadministrateur gewaarsku oor die toestande binne die museum. Die museum is verlede jaar deur 8,7-miljoen mense besoek.
# Rugby: Die Ierse senter Robbie Henshwa verwag Saterdag se kragmeting in Dublin met die wêreldkampioene, Suid-Afrika, sal bepaal waar sy span tans staan. Ierland het eers teen Nieu-Seeland verloor en toe nie beïndruk in die oorwinning oor Japan nie, maar daarna met mening teruggeslaan om die Wallabies 46-19 af te ransel. Henshaw hoop hulle kan dit opvolg met nog ‘n puik vertoning. Hy sê die Springbokke is tans die span waaroor almal praat omdat hulle oorwinnings uit oënskynlike hopelose situasies kan skep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-807-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-71-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….