Nuus 06:00
BULLETIN 17 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering sal nie na die VSA reis om die G20-presidentskap amptelik te oorhandig nie
# AfriForum versoek die G20-lande se steun om eiendomsregte te beskerm en plaasmoorde te beveg
# En krieket: Suid-Afrika klop Indië om hul eerste toetsoorwinning in 15 jaar in die land te behaal
# Suid-Afrika se G20 Hulp-Sherpa-ambassadeur, Xolisa Mabhongo, sê die regering sal nie na die VSA reis om die G20-presidentskap oor te dra nie. Tradisioneel neem die land wat die presidentskap oorneem die leisels oor na die G20-leiersberaad. Die VSA sal egter nie hierdie naweek ‘n afvaardiging na die beraad in Johannesburg stuur nie. Mabhongo het aan die Sunday Times gesê die VSA sal na Suid-Afrika moet kom of die volgende vergadering van staatshoofde aanbied sonder ‘n amptelike oorhandiging.
AfriForum het intussen die G20-lande gevra om te versoek dat eiendomsregte in Suid-Afrika gerespekteer word en doeltreffende stappe gedoen word om plaasmoorde te bekamp. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê plaasmoorde en die minagting van eiendomsregte in Suid-Afrika het reeds ‘n regstreekse negatiewe uitwerking op die komende G20-beraad gehad, met Amerika wat besluit het om die beraad as gevolg van hierdie kwessies te boikot:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa sê die Nasionale Kernreguleerderraad het die Koeberg-kernkragstasie Eenheid 2-lisensie ná 40 jaar van veilige en betroubare bedrywighede goedgekeur. Ramokgopa het in Pretoria inligting verskaf oor belangrike ontwikkelings in Suid-Afrika se Kernenergieprogram. Hy sê Eskom het met die vereiste voorbereidende werk begin, insluitend die hersiening en finalisering van tegniese spesifikasies:
# ‘n Afvaardiging van die Karibiese gemeenskap se herstelkommissie sal hierdie week gesprekke voer met amptenare en politici in Brittanje om die geskiedkundige ongeregtighede van slawerny en kolonialisme, asook hul blywende uitwerking aan te spreek. Daar is in die 15de tot die 19de eeu minstens 12,5-miljoen Afrikane gewelddadig ontvoer, deur Europese skepe vervoer en as slawe verkoop. Ondersteuners sê stappe moet gedoen word om die blywende nalatenskappe, soos rassisme, aan te pak. Oproepe vir skadevergoeding het wêreldwyd spoed opgetel, maar teenreaksie het ook toegeneem, met baie Europese leiers wat dit nie eers wil bespreek nie.
# Krieket: Suid-Afrika het sy eerste toetsoorwinning sedert 2010 in Indië behaal deur die gashere met 30 lopies in drie dae in die eerste toets in Kolkata te klop. Die Proteas is vir 159 uitgeboul in hul eerste beurt, voordat Indië slegs 189 kon aanteken, met Simon Harmer wat vier paaltjies geneem het. In die tweede beurt het kaptein Temba Bavuma ‘n onoorwonne 55 aangeteken terwyl die besoekers almal vir 153 uitgehaal is. In antwoord het Harmer nog vier paaltjies geneem terwyl Indië vir 93 uitgeboul is. Die laaste toets begin Saterdag in Guwahati.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-945-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-81-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA het hulde gebring aan die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur en struggle-ikoon, doktor Franklin Sonn, en hom geloof vir sy bydrae. Hy is Saterdag op die ouderdom van 86 in Kaapstad oorlede na ‘n kort siekbed. Sonn het van 1995 tot 1998 as ‘n demokratiese Suid-Afrika se eerste ambassadeur in die Verenigde State gedien. Karabo Khakhau van die DA sê hy was ‘n uitstekende leier wat geregtigheid, uitnemendheid en nasiebou voorgestaan het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….