Nuus 06:00
BULLETIN 12 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC staan minister Senzo Mchunu se versoek toe om uit partypligte te tree
# Paul Mashatile sê die regering is daartoe verbind om grondherverdeling te bespoedig
# En ‘n psigiatriese vereniging waarsku oor die gesondheidsrisiko’s van sportweddenskappe
# Die ANC het die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, se versoek toegestaan om tydelik opsy te staan van sy pligte in die party se nasionale uitvoerende komitee en nasionale werkkomitee. Hy het voorheen versoek om van sy politieke pligte verskoon te word, maar die ANC het geweier. Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het Mchunu beskuldig dat hy betrokke is by ‘n misdaadsindikaat wat die wetstoepassings- en intelligensiedienste geïnfiltreer het. Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê Mchunu staar talle aantygings in die gesig, waaraan hy aandag moet skenk:
# Die adjunkpresident, Paul Mashatile, sê die regering bly verbind tot die versnelling van grondhervorming terwyl dit binne die Grondwet plaasvind. In antwoord op vrae in die nasionale vergadering het Mashatile gesê die parlement het die gesag om die Grondwet te wysig, maar die terugdatering van grondeise voor 1913 word nie tans oorweeg nie. Hy het ook bevestig dat die vinnige grondvrystellingsprogram aan die gang is om grond te verskaf, nedersettings te ondersteun en te verseker dat herstelde grond bydra tot inklusiewe ekonomiese groei:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters sê sportdobbelary eis ‘n swaar tol op geestesgesondheid. Terwyl die land verantwoordelike dobbelmaand vier, berig psigiaters dat oproepe na die dobbelhulplyn die afgelope jaar met 623-persent gestyg het, probleemdobbelary het tot 31-persent gestyg, met jeugverwysings wat verdriedubbel het. Melane van Zyl van die organisasie waarsku dat verslawing tot depressie, dwelmmisbruik, huishoudelike geweld en selfmoord kan lei:
# Die Stad Johannesburg gaan ‘n nuwe omvattende geïntegreerde vervoerplan ontwikkel om die beweging van pendelaars veiliger en makliker te maak. Die driejaarprojek sal paaie, busse, treine, fietspaaie en voetgangerroetes verbind om ‘n veiliger, meer betroubare en volhoubare vervoernetwerk te skep. Die stad sê die plan sal mense met werk, skole en gesondheidsorg verbind, terwyl dit verkeersopeenhopings sal verminder en groener vervoer bevorder.
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc hoop op bouler-vriendelike kolfblaaie in die Reeks om die As teen Engeland, wat op die 21ste in Perth begin. Hy het veldwerkers gewaarsku om nie oppervlaktes gelyk te maak in ‘n poging om wedstryde na vyf dae te probeer verleng nie, en gesê dit sal die besoekers se aanval pas. Starc sê dit sal ‘n probleem wees as die fokus eerder op inkomste as op gehalte-krieket is. Die volgende drie toetse sal in Brisbane, Adelaide en Melbourne gespeel word, met die laaste toets op 4 Januarie in Sydney.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-584-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-135-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die Asante-koning van Ghana het die terugkeer van 130 goud- en bronsartefakte uit die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika, waarvan sommige tydens koloniale tye geplunder is, verwelkom. Die items het koninklike regalieë, tromme en seremoniële goudgewigte ingesluit, wat dateer uit die 1870’s en wys die kulturele rol wat goud in die Asante-samelewing speel. Die Britse kunshistorikus, Hermione Waterfield, het 25 van die stukke geskenk en die res is deur die Suid-Afrikaanse mynmaatskappy AngloGold Ashanti geskenk. Amptenare van die maatskappy sê die gebaar is ‘n daad van kulturele respek en versoening.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….