Nuus 06:00
BULLETIN 11 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verkry ‘n lening van byna 16-miljard-rand om groot stede te laat herleef
# Die instelling van AARTO is uitgestel tot 2026
# En rugby: André Esterhuizen sê die Bokke sal die kennis van vorige toetse teen Italië gebruik
# Die regering het ‘n lening van 15,91-miljard-rand van die Wêreldbank se Internasionale Bank vir Heropbou en Ontwikkeling verkry. Die ses jaar lange Suid-Afrikaanse Metro-sakediensteprogram is daarop gemik om die aanspreeklikheid, finansiële gesondheid en operasionele prestasie van noodsaaklike stedelike dienste in die land se agt grootste metropolitaanse munisipaliteite te verbeter. Dit sluit in Johannesburg, Kaapstad, eThekwini en Buffalo City. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê metro’s sal die aansporingsbefondsing ontsluit deur verbeterde dienslewering te bewys in watervoorsiening en sanitasie, elektrisiteit en afvalbestuur.
# Parlementslede sê hulle is bereid om die Kgosi Mampuru-gevangenis te besoek om getuienis van die veroordeelde dwelmhandelaar, Cat Matlala aan te hoor. Die parlementêre komitee glo dat sy getuienis lig kan werp op beweerde bande tussen gevangenes en amptenare wat betrokke is by gevangeniskorrupsie. Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Khusela Sangoni, sê reëlings word met Korrektiewe Dienste bespreek om Matlala toe te laat om onder veilige toestande te getuig voordat die komitee sy ondersoek voltooi:
# Die bekendstelling van die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings is uitgestel tot 1 Julie volgende jaar, in plaas van 1 Desember. Volgens die Ministerie van Vervoer volg die vertraging na assesserings wat bevind het sommige munisipaliteite is nog nie gereed nie. ’n Woordvoerder van die ministerie, Collen Msibi, sê sleutelkwessies sluit in die finalisering van opleiding vir wetstoepassing en kantoorpersoneel en die belyning van munisipale stelsels:
# President Donald Trump het Rudy Giuliani, Sidney Powell en talle ander bondgenote wat daarvan beskuldig word dat hulle probeer het om sy 2020-verkiesingsnederlaag om te keer, begenadig. Trump het in ‘n proklamasie wat Vrydag dateer is gesê die stap sal ‘n “ernstige nasionale onreg” beëindig en “die proses van nasionale versoening voortsit”. Trump is aangekla van die beweerde komplot om vals kiesers te soek wat sy bewerings dat hy in 2020 gewen het, sou ondersteun. Die saak is ná verlede jaar se verkiesing uitgegooi nadat aanklaers verklaar het die beleid teen die vervolging van ‘n dienende president laat dit nie toe.
# Rugby: Die veelsydige Springbok André Esterhuizen sê hulle sal die kennis van vanjaar se twee toetse teen Italië gebruik wanneer hulle Saterdag teen mekaar te staan kom in Turyn. Die Bokke het albei tuistoetse teen die Azzurri in Julie gewen. Esterhuizen se spelpeil was verlede naweek teen Frankryk uitstekend toe hy tussen senter en flank gewissel het na Lood de Jager se rooi kaart. Hy het na aanleiding van die Italianers se oorwinning Saterdag oor die Wallabies gesê Italië is ‘n onvoorspelbare span en hulle verwag ‘n taai stryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-111-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse akteur Jonathan Pienaar is gister in sy slaap in sy huis in Auckland Park, Johannesburg, oorlede. Hy was 63. Pienaar is veral bekend vir sy rolle in Yizo Yizo, Binnelanders, Roots en Isidingo. Hy het ook in talle Suid-Afrikaanse en internasionale films verskyn, insluitend Blood Diamonds, Dollars and White Pipes, Wild at Heart en Venus Noire. Akteur Anton Dekker het Pienaar beskryf as ‘n werklik unieke akteur en ‘n wonderlike mens, terwyl regisseur en vervaardiger Denver Vraagom sê hy was ‘n vriend en ‘n sielsgenoot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….