Nuus 06:00
BULLETIN 10 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die G20-beraad sal sonder die VSA voortgaan
# Byna een-miljoen mense word ontruim nadat ‘n tweede tifoon die Filippyne tref
# En gholf: Die Suid-Afrikaner Casey Jarvis wen die Hyundai Ope
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê die G20-leiersberaad sal voortgaan met of sonder die VSA se verteenwoordiging. Dit volg nadat president Donald Trump verklaar het dat hulle die beraad gaan boikot. Hy het op sy Truth Social-platform gesê dit is ‘n totale skande dat die G20 in Suid-Afrika gehou sal word, aangesien Afrikaners uitgemoor word, en daar onwettig op hul grond en plase beslag gelê word. Mbalula het aan eNCA gesê Trump se stellings is vals en imperialistiese inmenging:
# Die Forum for South Africa sê hy is diep ontsteld oor die stadige ondersoek na bewerings van manipulering van die wisselkoers tussen die rand en die Amerikaanse dollar deur verskeie groot plaaslike en internasionale banke. Die FOSA-leier, Tebogo Mashilompane, sê handelaars het saamgespan om pryse vas te stel, tenders te koördineer en die waarde van die Suid-Afrikaanse rand te verdraai; dade wat die integriteit van die land se finansiële stelsel direk ondermyn en die lewensbestaan van gewone Suid-Afrikaners benadeel het:
# Suid-Afrika sal van vandag tot Woensdag ‘n historiese byeenkoms vir wêreldwye water- en sanitasieleiers in Johannesburg aanbied. Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sal die dialoog lei, as die begin van hoëvlak-betrokkenheid om nuwe oplossings vir watersekerheid en -sanitasie regoor Afrika en die Globale Suide te bevorder. Die departement sê meer as een-duisend-500 afgevaardigdes van regoor die vasteland en die breër Globale Suide sal dit bywoon, insluitend regeringsleiers, waternutsbestuurders, navorsers, jeuginnoveerders, burgerlike samelewingsorganisasies en vennote in die private sektor.
# Die DA is bekommerd na die ontsnapping Saterdag van die veroordeelde verkragter, Jakob September, uit die Helderstroom Maksimum Korrektiewe Sentrum in Caledon in die Wes-Kaap. September, oorspronklik van Riversdal, het ‘n vonnis van 28 jaar vir gewelddadige seksuele oortredings uitgedien. Nicholas Gotsell van die DA sê hulle eis dat die die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris Thembisile Patekile, en Pieter Groenewald van Korrektiewe Dienste dringend voor die Parlement moet verskyn:
# Byna 920-duisend inwoners uit elf streke is ontruim nadat tifoon Fung-wong gister die Filippyne bereik het. Twee mense is dood. Die storm, wat tot ‘n supertifoon opgegradeer is voordat dit die land getref het, sal na verwagting ernstige oorstromings en grondverskuiwings veroorsaak. Dit volg dae nadat tifoon Kalmaegi die land getref het, wat ten minste 224 lewens geëis en nog 135 vermis gelaat het, terwyl vyf mense in Viëtnam dood is. Die Filippynse regering het na tifoon Kalmaegi, en as voorsorgmaatreël teen die nuwe storm, ‘n ramptoestand verklaar.
# Gholf: Casey Jarvis van Suid-Afrika het sy eerste Sonskyntoer-titel by die Hyundai Ope op die Ebotse Golf and Country Estate in Benoni gewen. Die 22-jarige het klaar gemaak met 68 op 23 onder baansyfer. Sy vriend en landgenoot Ryan van Velzen het tweede geëindig op 22 onder. Die Sonskyntoer-groentjie Warwick Purchase was derde met 20 onder op 68, en is in die wedloop vir die Fortress Nuweling van die Jaar-titel. Jarvis sê die laaste ronde was moeilik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-809-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-9-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….