Nuus 06:00
BULLETIN 5 November 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa ontvang die G20-taakspanverslag oor wêreldwye ongelykheid
# Die Verkiesingskommissie stel veranderinge aan die Kieswet voor
# En krieket: Pakistan klop Suid-Afrika met twee paaltjies in hul eerste eendagwedstryd
# President Cyril Ramaphosa het die verslag van die G20 se buitengewone komitee van onafhanklike deskundiges oor globale ongelykheid ontvang. Die verslag, onder die leiding van die Nobelpryswenner en ekonoom Joseph Stiglitz, ondersoek die dryfvere van ongelykheid en bied praktiese stappe om die welvaartgaping te verklein. Ramaphosa sê ongelykheid bedreig demokrasie, menswaardigheid en inklusiewe groei. Hy voeg by dat Suid-Afrika se G20-presidentskap die verslag sal gebruik om besprekings by die G20-leiersberaad in Johannesburg later vandeesmaand te lei:
Stiglitz voeg by globale ongelykheid is ‘n ernstige probleem wat gesondheid, onderwys en die ekonomie raak. Hy en die uitvoerende direkteur van UNAIDS, Winnie Byanyima, het die verslag aan Ramaphosa by die Uniegebou in Pretoria oorhandig. Stiglitz stel ‘n internasionale paneel oor ongelykheid voor om regerings te lei oor billiker beleide. Hy het die G20 aangespoor om op te tree, aangesien ongelykheid ‘n keuse is wat met kennis en samewerking aangespreek kan word:
# Die Verkiesingskommissie het wysigings aan die Kieswet voorgestel voor volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing. Die adjunk-hoofverkiesingsbeampte, Masego Sheburi sê hoewel die verkiesingsdatum nog nie amptelik vasgestel is nie, is die kommissie gereed om die munisipale verkiesing op die eerste Woensdag van November te hou, afhangende van besprekings met die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, en die kabinet:
# Die regering het die noemenswaardige toename in aankomste deur internasionale toeriste tussen Januarie en September verwelkom. Die Departement van Toerisme het meer as 7,6-miljoen aankomste bevestig, wat volgehoue herstel en hernieude vertroue in Suid-Afrika as ‘n vooraanstaande wêreldwye toerismebestemming weerspieël. Dit is ‘n toename van meer as 1,1-miljoen besoekers in vergelyking met dieselfde tydperk in 2024, met sterk groei uit sleutelmarkte in Afrika, Europa en Asië. Die stygende getalle bevestig ook die regering se pogings om die toerismesektor uit te brei, ekonomiese groei te stimuleer en broodnodige werksgeleenthede te skep.
# Oudpresident George W. Bush van Amerika het hulde gebring aan die voormalige visepresident Dick Cheney. Die 84-jarige, wat onder Bush gedien het, is oorlede weens komplikasies van longontsteking en hart- en vaskulêre siektes. Cheney was ‘n sentrale figuur in die 2003-inval in Irak deur die VSA en geallieerde magte. Bush sê die geskiedenis sal hom onthou as een van die beste staatsamptenare van sy tyd, ‘n patriot met integriteit, hoë intelligensie en doelgerigte erns in elke posisie wat hy beklee het.
# Krieket: Pakistan het Suid-Afrika met twee paaltjies in Faisalabad gewen om ‘n 1-0 voorsprong te neem in die eendagreeks van drie wedstryde. Quinton de Kock het die meeste lopies aangeteken met 63 van 71 balle, terwyl nuweling Lhuan-dre Pretorius 57 lopies aangeteken het. Die Proteas is met 263 lopies in 49,1 boulbeurte uitgeboul. Naseem Shah en Abrar Ahmed het elk drie paaltjies geneem. In antwoord hierop het Salman Agha 62 lopies aangeteken en die gashere het die teiken bereik met twee balle oor. Die tweede eendagwedstryd word môre op dieselfde veld gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-76-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-936-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….