Nuus 06:00
BULLETIN 31 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê vordering word gemaak om die Polisiediens op te ruim
# Die minister van Hoër Onderwys kondig reëls af om die toesig oor universiteite te verskerp
# En Israel ontvang die oorskot van wat Hamas beweer nog twee oorlede gyselaars is
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering tree ernstig op om die vrot appels uit die polisiemag te verwyder en openbare vertroue te herstel. Mashatile het in reaksie op vrae in die Nasionale Vergadering gesê die polisiediens word skoongemaak met stappe om toesig te versterk en te verseker slegs toegewyde beamptes bly in die mag. Hy voeg by gemeenskapspolisiëringsforums moet versterk word, aangesien gemeenskappe misdadigers dikwels ken, maar dan stilbly daaroor:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi het die Hooggeregshof in Pietermaritzburg se beslissing verwelkom om die uitspraak van die 1967 geregtelike doodsondersoek, wat hoofman Albert Luthuli se dood as ‘n ongeluk verklaar het, tersyde te stel. Kubayi se woordvoerder, Terrence Manase, sê die uitspraak weerspieël Suid-Afrika se voortgesette toewyding om historiese waarhede te ontbloot en geregtigheid te lewer vir gesinne wat deur die ongeregtighede van die apartheid-era geraak is:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het konsep-verslagdoeningsregulasies vir openbare kommentaar gepubliseer. Die nuwe reëls is ontwerp om aanspreeklikheid te versterk, deursigtigheid te verbeter en vroeër ingryping in universiteitsbestuur moontlik te maak. Dit volg na onlangse betogings by die Universiteit van Fort Hare en die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Die konsep stel ook etiekbeamptes voor en vereis die openbaarmaking van raadslede se belangebotsings, prestasiebeoordelings en bestuursvergoeding. Manamela sê dit gaan nie oor die beperking van outonomie nie; dit gaan oor die versterking van aanspreeklikheid.
# Die Polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi het die National Coloured Congress-parlementslid, Fadiel Adams, uitgedaag om ‘n saak teen hom te open. Mkhwanazi sê hy is glad nie ontstel nie en is gereed vir enige pogings om hom te intimideer oor sy getuienis oor polisie-inmenging en korrupsie. Hy sê die publiek sien nou die polisie se uitdagings en moedig deursigtigheid aan namate meer beamptes hul frustrasies deel:
# Israel sê hy het via die Rooi Kruis in Gaza die oorskot ontvang van wat Hamas beweer nog twee oorlede gyselaars is. Die liggame is vermoedelik die van Amiram Cooper en Sahar Baruch. Indien dit deur identifikasie bevestig word, is daar nog elf liggame wat in Gaza oorbly. Die oordrag van die oorskot kom net dae nadat Israel aanvalle in Gaza uitgevoer het, wat meer as 100 Palestynse lewens geëis het, in reaksie op Hamas wat ‘n Israelse soldaat in Rafah doodgemaak het.
# Rugby: Japan se afrigter, Eddie Jones, sê sy span is gereed om alles te gee wanneer hulle Saterdag teen die Springbokke en viermalige wêreldkampioene in Londen te staan kom. Die Brave Blossoms se volgende toets gaan nog moeiliker wees as die een wat hulle verlede week naelskraap teen Australië verloor het. Jones sê Japan moet die krag van die Springbokke se voorry en balvernuf beveg. Die voormalige Engeland- en Wallabies-afrigter glo akkuraatheid en vinnige spel sal deurslaggewend wees, en belowe Japan sal sy beste gee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-636-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-30-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….