Nuus 06:00
BULLETIN 18 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika sal die SAOG-voorsitterskap gebruik om streeksamewerking te versterk
# AfriForum waarsku Nersa se sonkragregistrasiereëls kan tot nuwe heffings lei
# En Donald Trump dreig om Oman te bombardeer as hy inmeng met pogings om die Iran-oorlog te beëindig
# President Cyril Ramaphosa het onderneem om Suid-Afrika se voorsitterskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap te gebruik om streeksekonomiese integrasie te verdiep en veerkragtige, volhoubare en inklusiewe industrialisering te bevorder. Hy het die SAOG-voorsitterskap van die Zimbabwiese president Emmerson Mnangagwa ontvang tydens die 46ste Gewone Spitsberaad van SAOG-staats- en -regeringshoofde in Durban. Die oorhandiging bepaal die einde van Zimbabwe se ampstermyn en die begin van Suid-Afrika se leierskap van die 16-lid streekblok. Ramaphosa sê ‘n sleutelfokus sal wees om ekonomiese bande regoor die streek te versterk:
# AfriForum het kommer uitgespreek oor die nuwe konsepreëls van die energiereguleerder, Nersa, wat munisipaliteite en ander elektrisiteitsverspreiders kan dwing om registers van kleinskaalse sonkragstelsels te hou. Die organisasie waarsku die inligting kan later gebruik word om nuwe heffings in te stel vir huishoudings, boere en besighede wat sonkrag gebruik. Deidré Steffens van AfriForum sê die reguleerder moet verduidelik of die registrasiereëls wettig en nodig is:
# Die Raadgewende Ingenieurs, Suid-Afrika, CESA, sê die sukses van die Nasionale Wateraksieplan sal afhang of houervermoë- en bevoegdheidsontwikkeling as kern en kritieke elemente hanteer word, en nie gesny word wanneer begrotings stram raak nie. Die plan sit ‘n gefokusde, programmatiese reeks aksies uiteen om ‘n betroubare voorraad gehaltewater aan alle burgers te verseker, met die doel om die oorsake van die watervoorsieningsuitdagings aan te spreek. CESA sê die langtermynsukses van die plan sal uiteindelik gemeet word aan die infrastruktuur en formele verbeterings se funksionaliteit en doeltreffendheid oor tyd.
# Die DA sê 41 ambulanse van die Stad Johannesburg, ter waarde van meer as 16-miljoen-rand, staan al ses jaar lank ongebruik terwyl inwoners onderhewig is aan lang wagtye vir nooddienste. Die party doen ‘n beroep op ‘n onafhanklike oudit om die toestand en waarde van die ambulanse te bepaal. Alan Fuchs van die DA blameer swak beplanning nadat die Gautengse regering ambulansdienste in 2020 oorgeneem het. Hy sê die ongebruikte voertuie mors openbare geld:
# President Donald Trump het gedreig om Oman te bombardeer as hy “in die pad staan” van sy pogings om die oorlog met Iran te beëindig. Dit volg nadat die 60-dae-venster vir vredesgesprekke tussen Amerika en Teheran gister verstryk het. Oman is verskeie keer deur Iran aangeval sedert die konflik uitgebreek het; die twee lande is egter in gesprek oor die Straat van Hormoes. Trump het bevestig dat sy regering ‘n regstreekse gesprekskanaal met Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wag gevestig het, maar sê hy is nie haastig om ‘n ooreenkoms te sluit nie.
# Rugby: Die afrigter van die Bulle, Johan Ackermann dink nie die All Blacks se vertoning teen die Bulle, die Stormers en die Sharks, is ‘n aanduiding van hoe die besoekers teen die Springbokke sal vaar nie. Die All Blacks het hierdie drie spanne redelik maklik verslaan in die aanloop tot Saterdag se eerste toets op Ellispark. Die voormalige slot, wat tussen 1996 en 2007, 13 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, sê die Bokke sal meer wedstrydfiks wees as die franchise-spanne. Die All Black-afrigter Dave Rennie het sy span gewaarsku om die spelpeil teen die wêreldkampioene te verhoog.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-251-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-415-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….