Nuus 06:00
BULLETIN 29 October 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Polisie sê die polisieleierskap moet spanwerk eerste stel om misdaad te bekamp
# Die VF Plus verwerp minister Kubayi se uitlatings oor Afrikaner-selfbeskikking
# En ArcelorMittal gaan teen die heraanstelling van staalwerkers appelleer
# Die adjunkminister van Polisie, Cassel Mathale, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê die leierskap binne die SAPD moet spanwerk eerder as interne gevegte bevorder. Mathale het gepraat oor bewerings van interne geskille en sê meningsverskille bestaan, maar leiers moet samehangende spanne bou om misdaad doeltreffend te bestry. Hy beklemtoon sukses hang van samewerking af en voeg by die polisiediens kan nie sonder sterk leierskap en spanwerk sy misdaadbestrydingsdoelwitte bereik nie:
Mathale het intussen onthul dat adjunkministers in die Ministerie van Polisie tans geen gedelegeerde verantwoordelikhede het nie. Mathale het aan die parlementêre ad hoc-komitee erken hy is al vir meer as ‘n jaar in die pos sonder enige spesifieke take, maar hou vol hy en sy kollegas is nie ledig nie. Hy sê die span werk steeds saam aan polisie-operasies, insluitend herstruktureringsinisiatiewe en die voortgesette fase twee van Operasie Shanela:
# Die Vryheidsfront Plus sê die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, se opmerkings oor Afrikaner-selfbeskikking ondermyn Artikel 235 van die Grondwet. Die party voer aan Kubayi se opmerkings ondermyn 1994 se ooreenkoms wat kulturele en gemeenskapsregte erken. Wynand Boshoff van die VF Plus sê die minister se bewering dat Orania in die Noord-Kaap rasse-afsondering bevorder, is misleidend en ignoreer die gemeenskap se reg op kulturele selfbeskikking:
# ArcelorMittal Suid-Afrika het om verlof tot appèl aansoek gedoen teen die Arbeidshof se uitspraak wat die heraanstelling van afgelegde werkers by die Newcastle- en Vereeniging-aanlegte gelas. Die metaalwerkersvakbond Numsa het ‘n dringende interdik versoek wat Amsa dwing om nuwe afleggingskennisgewings uit te reik of samesprekings te hervat kragtens die Januarie-kennisgewing. Amsa hou vol hy het aan al sy verpligtinge vir billike onderhandelinge tydens die afwentelingsproses voldoen. Hy sê hy het geen ander keuse gehad as om die langstaalonderneming onder sorg en instandhouding te plaas nie.
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Hamas daarvan beskuldig dat hy die wapenstilstandooreenkoms in Gaza skend deur die oorskot van ‘n gyselaar te oorhandig wat soldate reeds byna twee jaar gelede gevind het. Hy waarsku Israel sal reageer nadat hy die volgende stappe met sy Weermaghoofde bespreek het. Dit verhoog vrese oor die volhoubaarheid van die wapenstilstand. Dertien gyselaars se liggame is vermoedelik nog in Gaza. Hamas sê dis moeilik om hulle te vind weens ‘n gebrek aan toerusting om deur die verwoesting en puin te sif.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith verwag ‘n vinnige wedstryd op ‘n hibriede oppervlak wanneer hulle Saterdag teen Japan speel op die Wembley-sokkerstadion in Londen. Baie Bok-spelers het ondervinding van hibriede oppervlakke in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Engelse Premierliga en weet wat om te verwag. Smith sê hy en ander Bokke wat in Japan gebaseer is, het reeds ‘n week gelede in Londen aangekom en kon aanpas by plaaslike toestande. Hy beskryf Wembley as ‘n wonderlike stadion wat ‘n goeie wedstryd behoort op te lewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-84-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-938-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….