Nuus 06:00
BULLETIN 28 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika se verwydering van die gryslys is ‘n goeie teken vir die ekonomie
# Israel hef die noodtoestand op in gebiede naby die Gaza-grens
# En krieket: Suid-Afrika en Pakistan pak mekaar in die eerste T20 in Rawalpindi
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se verwydering van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys is ‘n goeie teken vir die integriteit en reputasie van die land se finansiële stelsel. In 2023 is Suid-Afrika op die gryslys geplaas omdat hy nie aan sekere internasionale standaarde voldoen het nie. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die land se verwydering van die gryslys toon dat die teen-geldwasserystelsel sukses behaal teen korrupsie en ander finansiële misdade. Hy sê daar is nog baie werk wat gedoen moet word om finansiële misdaad te verminder en te voorkom.
# Die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Andy Mothibi, sê as die gasheerland is Suid-Afrika in ‘n uitsonderlike posisie om sy G20-presidentskap te benut om plaaslike en internasionale korrupsie-uitdagings aan te pak. Die derde vergadering van die G20-teenkorrupsiewerkgroep vind hierdie week in Mpumalanga plaas. Die voorsitterskap word gedeel deur Mothibi en Marcelo Pontes Vianna van Brasilië. Mothibi sê hy is vol vertroue dat die werkgroep oor al vier prioriteite sal saamstem, naamlik versterking van die integriteit van die openbare sektor, verhoging van bateherwinningsdoeltreffendheid, inklusiewe samelewingsdeelname en die beskerming van fluitjieblasers:
# ’n Agt-en-dertig-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op twee jong vroue in Mamelodi-Oos, Pretoria, oor die naweek. Die liggame van die vroue in hul vroeë twintigs is Sondag langs die pad gevind met skietwonde in hul koppe. Polisiewoordvoerder Tintswalo Sibeko sê ’n derde vrou is ook tydens die voorval geskiet en in die hospitaal opgeneem:
# AfriForum en die gesin van die 21-jarige Dewald Beetge versoek Suid-Afrikaners om vandag wit te dra uit verset teen plattelandse geweld. Beetge is steeds in ‘n bedenklike toestand nadat hy op 15 Oktober geskiet is tydens ‘n plaasaanval naby Melville in KwaZulu-Natal. Jacques Broodryk van AfriForum veroordeel die wreedheid en noem dit ‘n wekroep vir die regering om plattelandse veiligheid voorop te stel. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie:
# Israel het die noodtoestand vir gebiede naby die grens met Gaza opgehef – die eerste keer sedert Hamas se aanvalle in Oktober 2023. Die minister van Verdediging, Israel Katz, sê die besluit weerspieël die nuwe veiligheidsituasie in die suide van die land en volg terwyl die wapenstilstand wat op 10 Oktober in werking getree het, grootliks gehandhaaf word. Die noodtoestand, wat tot 80 kilometer van Gaza in die suide van Israel geheers het, het die owerhede spesiale magte gegee om openbare orde te handhaaf en burgerlike veiligheid te verseker.
# Krieket: Suid-Afrika en Pakistan se manspanne pak mekaar vandag in die eerste van drie T20-wedstryde in Rawalpindi nadat die toetsreeks een-elk gelykop geëindig het. Donovan Ferreira sal die Proteas aanvoer terwyl Aiden Markram ‘n ruskans kry. David Miller sou as kaptein gedien het, maar het ‘n beenbesering opgedoen. Matthew Breetzke is as kaptein aangewys vir die eendagwedstryde. Die tweede T20 word Vrydag in Lahore gespeel en die laaste wedstryd die volgende dag op dieselfde veld. Die eendagwedstryde word van volgende Dinsdag almal in Faisalabad gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-918-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-992-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….