Nuus 06:00
BULLETIN 24 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Suid-Afrika en Viëtnam het hul verhouding opgradeer
# Getuie B sê sy kan nou vreedsaam sterf met die wete dat die waarheid blootgelê is
# En krieket: Miller en Coetzee is op die Proteas se krukkelys
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika verwelkom Viëtnam se voorstel om die twee nasies se bilaterale verhouding van ‘n omvattende vennootskap na ‘n strategiese vennootskap te verhef. Die president is op ‘n tweedaagse staatsbesoek aan Viëtnam as deel van ‘n drie-nasie-besoek aan Suidoos-Asië. Suid-Afrika is Viëtnam se grootste handels- en uitvoervennoot in Afrika. Ramaphosa sê die opgradering van die bilaterale verhouding tussen die twee nasies is ‘n weerspieëling van die groeiende belangrikheid van Suidoos-Asië vir Suid-Afrika:
# Die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê sakeman, Vusimusi “Cat” Matlala, het beweer hy is genader om ‘n projek te befonds vir iemand wat ANC-president of adjunkpresident wou word. Die geskorste polisieminister Senzo Mchunu was na bewering betrokke. Cele sê Matlala het vergaderings met Mchunu en Brian Mogotsi bevestig, wat Mchunu ontken het. Hy sê Matlala het hom ingelig oor ‘n komplot om die hoof van die SAPD-misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, uit te skuif:
# Die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, het sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee gewysig en sy vorige bewering teruggetrek dat voormalige polisieminister Bheki Cele geld van Vusimuzi “Cat” Matlala ontvang het. Cele het bevestig dat hy bewus is van die vorige bewerings. Alhoewel Mkhwanazi se hersiene getuienis die bewering van direkte betaling verwyder, is daar onbeantwoorde vrae oor Cele se vorige verbintenis met Matlala, wat verband hou met kriminele infiltrasie binne die polisie.
# Getuie B het aan die Madlanga-kommissie gesê sy kan nou vreedsaam sterf in die wete dat haar getuienis die waarheid oor korrupsie en geweld in die polisie ontbloot het. Sy het die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, bedank vir sy moed om kwessies bloot te lê wat ander vrees om aan te pak. Getuie B het ter afsluiting van haar getuienis vanaf ‘n geheime plek, die waarnemende Gautengse regterpresident Aubrey Ledwaba gekritiseer vir sy besluit om borgtog aan moordbeskuldigde Katiso “KT” Molefe toe te staan:
# Die Universiteit van Kaapstad word hof toe geneem oor twee resolusies oor die Israel-Gaza-konflik wat aanvaar is sonder om die gevolge te oorweeg. News24 berig professor Adam Mendelsohn het die Wes-Kaapse Hooggeregshof genader om die raad se besluite tersyde te stel. Mendelsohn voer aan die universiteit het finansiële en reputasierisiko’s geïgnoreer, insluitend die onttrekking van 200-miljoen-rand in skenkings en die staking van befondsing deur die Dell Stigting. Hy versoek dat die besluite onwettig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar word. Die hof het ook gehoor hy is steeds geskors ten spyte van ‘n ondersoek in Mei wat hom vrygespreek het.
# Krieket: Die ervare kolwer David Miller sal die T20-reeks teen Pakistan misloop, terwyl snelbouler, Gerald Coetzee nie in die T20-wedstryde of die eendagreeks sal speel nie. Miller is as kaptein vir die T20’s aangewys terwyl Aiden Markram gerus het, maar het nou ‘n beenbesering opgedoen. Donovan Ferreira sal die span lei. Coetzee is weens ‘n borsspierbesering weggelaat. Tony de Zorzi maak sy T20-buiging nadat hy in die toetsreeks beïndruk het, terwyl Matthew Breetzke die eendagspan sal aanvoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-34-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-113-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….