Nuus 06:00
BULLETIN 22 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vertrek op ‘n drie-nasie-besoek in Suidoos-Asië
# Die Gautengse polisie soek na verdagtes wat betrokke was by die bendeverwante skietery in Westbury
# En Europese leiers wil die druk op Rusland verhoog
# President Cyril Ramaphosa sal van vandag tot Dinsdag drie lande in Suidoos-Asië besoek met die doel om Suid-Afrika se betrekkinge in die streek te versterk en samewerking in sleutelsektore te bevorder. Ramaphosa sal Indonesië, Viëtnam en Maleisië besoek, waar hy die 47ste beraad van die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies sal bywoon. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya, sê die reis sal fokus op die bevordering van handel, beleggings, landbou, toerisme en volhoubare ontwikkeling.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het sy besluit om die taakspan vir politieke moorde te ontbind, verdedig en sê die besluit het nie die nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola se gesag ondermyn nie. Mchunu het voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn en verduidelik die eenheid is gestig na ‘n politieke opdrag deur president Cyril Ramaphosa, en nie standaard SAPD-prosedures nie. Hy hou vol sy optrede was binne sy ministeriële magte en in lyn met grondwetlike bepalings:
# Getuie A het aan die Madlanga-kommissie gesê die sakeman Katiso “KT” Molefe, wat beskuldig word van moord, tenderbedrog en beweerde bande met die ‘Groot Vyf’-misdaadkartel, word verbind aan ‘n groep van vyf mense betrokke by mynbou in Noordwes. Hy sê een lid, ‘n man bekend as Ze van Sandton, is na bewering na aan die EFF-leier, Julius Malema, wat bande het met die nasionale adjunkpolisiekommissaris vir Misdaadopsporing, Shadrack Sibiya:
# Gauteng se adjunkpolisiekommissaris, Fred Kekana, sê hulle sal geen steen onaangeroer laat om die verdagtes op te spoor wat betrokke was by gistermiddag se skietery in Westbury, wes van Johannesburg nie. Twee tieners is doodgeskiet en vyf ander is gewond in wat die polisie glo ‘n bendeverwante skietery was. Die slagoffers is tussen 13 en 19 jaar oud. Kekana sê Distriksmisdaadintelligensie is ook gemobiliseer om die Teen-bende-eenheid te help met die opsporing van die verdagtes:
# Elf Europese leiers sê hulle ondersteun president Donald Trump se standpunt dat gevegte in Oekraïne onmiddellik moet eindig, en sê die huidige kontaklyn moet die beginpunt van onderhandelinge wees. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het herhaaldelik die idee verwerp om groot gebiede in die oostelike streke van Donetsk en Luhansk prys te gee, as deel van ‘n ooreenkoms met Moskou. Die Europese leiers sê hulle sal die druk op Rusland se ekonomie en sy verdedigingsbedryf verhoog totdat president Vladimir Putin gereed is om vrede te maak.
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n eerstebeurt-agterstand van 148 lopies aan die begin van die derde dag van die tweede en laaste toets teen Pakistan in Rawalpindi. Die Protea-draaibouler Keshav Maharaj het gisteroggend die gashere se laaste vyf paaltjies ingepalm om met sewe paaltjies weg te stap, terwyl Pakistan uitgeboul is vir 333. Ryan Rickelton het sy paaltjie vroeg verloor, waarna Tony de Zorzi 55 bygedra het en Tristan Stubbs ‘n onoorwonne 68. Hy en Kyle Verreyne sal die Proteas se beurt hervat op 185 vir vier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-444-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-121-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….