Nuus 06:00
BULLETIN 20 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering gaan 2,2-duisend-miljard-rand in ‘n energietransformasiestrategie belê
# AfriForum beweer Ramaphosa erken dat gedeeltes van die Onteieningswet ongrondwetlik is
# En padwedlope: Die 2025 Kaapstad-marathondeelnemers sal volgende jaar geborgde inskrywings ontvang
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die regering beplan om 2,2-duisend-miljard-rand, wat ongeveer 30-persent van Suid-Afrika se BBP is, in ‘n omvattende energietransformasiestrategie te belê. Dit is deel van die land se Geïntegreerde Hulpbronplan, wat deur die kabinet goedgekeur is. Ramokgopa sê die plan is daarop gemik om elektrisiteitsvoorsieningskwessies aan te spreek, ekonomiese groei te bevorder en werksgeleenthede te skep, met ‘n teiken van drie-persent BBP-groei teen 2030:
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa het onder eed erken dat Artikels 19(2), (3) en (4) van die Onteieningswet ongrondwetlik is, wat onteiening toelaat voordat grondeienaars dit in die hof kan betwis. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, verwelkom die erkenning, maar voer aan dat slegs die Parlement die wet kan wysig. Hy doen ‘n beroep dat die Wet ongrondwetlik verklaar of na die Parlement terugverwys word. Hy sê Ramaphosa moet aanspreeklik gehou word vir die ekonomiese gevolge van die wet:
# Die DA het sy oproep herhaal dat die Veiligheidsgroep teen 31 Oktober ‘n gesamentlike aksieplan moet indien om die ineenstorting van Suid-Afrika se strafregstelsel aan te spreek. Die DA-woordvoerder vir Justisie, Glynnis Breytenbach, sê korrupsie en ondoeltreffendheid het misdadigers toegelaat om straffeloos op te tree, wat groei en werkgeleenthede verlam. Sy sê die ministers van Justisie, Polisie, Korrektiewe Dienste en Staatsveiligheid moet beslissend optree om wet, orde en openbare veiligheid te herstel.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sal vandag ‘n aangekondiging maak oor die gereedheid vir die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die departementele woordvoerder, Terence Khala, sê die minister sal kandidaatgetalle, eksamensentrumverspreiding, leerderondersteuningsmaatreëls en stelselvoorbereiding bekendmaak. Hy sê die inligtingsessie sal geïdentifiseerde bedreigings en verligtingstrategieë uitlig terwyl die land voorberei vir een van die belangrikste gebeurtenisse op die onderwyskalender:
# Die Franse polisie het ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n bende wat waardevolle juweliersware uit die Apollo-kamer in die Louvre-museum in Parys gesteel het. Dit blyk dat die bende ‘n meganiese leer gebruik en toegang tot die eerste verdieping verkry het voordat hulle uitstallingskaste gebreek en op bromponies ontsnap het. Die minister van Binnelandse Sake, Laurent Nuñez, sê dit het die diewe sewe minute geneem om met die juwele, met werklike erfeniswaarde, weg te kom. Hy het vertroue uitgespreek dat die diewe vasgetrek en die juwele teruggevind sal word.
# Padwedlope: Organiseerders van die Kaapstad-marathon sê vanjaar se deelnemers sal geborgde inskrywing vir volgende jaar se wedloop ontvang. Sondag se wedloop is op die nippertjie gekanselleer weens rukwinde wat strukture beskadig het voordat die skoot afgevuur kon word. Die marathon was daarop gemik om Abbott World Marathon Majors-status te verwerf, om erken te word as een van die mees gesogte wêreldwedlope. Daar is tans slegs sewe marathons in die eliteklub: Tokio, Boston, Londen, Berlyn, Chicago, New York Stad en Sydney.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-37-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-635-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-240-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….