Nuus 06:00
BULLETIN 17 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Mchunu neem verantwoordelikheid vir die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde
# Minister De Lille vra vir benoemings vir kandidate van die SA Toerismeraad
# En rugby: ‘n Elite-vrouekompetisie word volgende jaar vir Suid-Afrika beplan
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê dat hy die brief om die taakspan vir politieke moorde te ontbind, in sy huis in KwaZulu-Natal geskryf het. Mchunu, wat daarvan beskuldig word dat hy sy mandaat oorskry het deur die taakspan te ontbind, hou vol dat niemand anders by die besluit betrokke was nie, aangesien die span nooit deel was van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se organogram nie. Hy sê alhoewel befondsing ná 2022 voortgeduur het, bestaan daar geen getekende goedkeuring vir die span se voortgesette bedrywighede nie:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê sy het die proses vir die benoeming van geskikte kandidate om die funksies van die Suid-Afrikaanse Toerismeraad te vervul, in die Staatskoerant afgekondig. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Pretoria die dringende aansoek van die voormalige raadslede van die hand gewys het om die minister se besluit om die raad in Augustus te ontbind, tersyde te stel. Die hof het beslis die aansoek voldoen nie aan die wetlike vereiste van dringendheid nie. De Lille sê die benoeming van nuwe raadslede sal op 5 Desember sluit:
# AfriForum het die Gautengse Onderwysdepartement veroordeel vir die vermindering van subsidies en die besnoeiing van departementele poste by kwintiel 5-skole. In ‘n brief aan LUR Matome Chiloane dring AfriForum aan op groter outonomie vir finansieel onafhanklike skole. Die hoof van Kultuursake, Alana Bailey, het gewaarsku dat die besnoeiings die gehalte van onderwys sal benadeel, wat tot oorvol klasse sal lei. Sy bevestig dat AfriForum se regspan stappe ondersoek om swak beplanning en gesentraliseerde beheer uit te daag:
# Die militêre hoof van Jemen se Houthi-rebelle is in ‘n Israeliese aanval dood. Die Iran-gesteunde groep sê generaal-majoor Mohammed al-Ghamari is in die geveg teen Israel dood sonder om verdere besonderhede te gee, maar het met wraak gedreig. Die aankondiging van sy dood volg dae na ‘n wapenstilstand in die twee jaar lange Gaza-oorlog, waartydens die Houthi’s herhaaldelik Israeliese teikens en vragskepe in die Rooi See aangeval het. Ghamari is saam met “metgeselle” en sy 13-jarige seun dood.
# Rugby: SA Rugby beplan ‘n elite-, volledige beroepskompetisie vir vroue volgende jaar. SARU se president, Mark Alexander, sê dit volg op die Springbok-vroue se puik vertoning in die Wêreldbekertoernooi in Engeland, waar hulle die heel eerste keer die kwarteindronde gehaal het. Hy sê die potensiaal vir groei in die vrouespel in die land is fantasties, en terwyl die spelersbasis groei, sal uitnemendheid op hoëprestasievlak ook groei. Alexander glo dit is nie ‘n kwessie van óf Suid-Afrika se vroue die Wêreldbeker kan wen nie, maar wanneer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-182-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-357-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 60-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, lei vandag die Nasionale Senior Sertifikaat-belofte-ondertekeningseremonie met die matriekklas van 2025 by Harry Gwala High School in Khayelitsha, Kaapstad. Die jaarlikse geleentheid versterk eerlikheid en integriteit in die eksamenproses, aangesien leerders hulle daartoe verbind om bedrog of wangedrag te vermy. Die seremonie beklemtoon die departement se strewe om billikheid, geloofwaardigheid en openbare vertroue in Suid-Afrika se onderwysstelsel te handhaaf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….