Nuus 06:00
BULLETIN 16 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau ontken Mashatile se beweerde belange in Sizekhaya
# Umalusi wens die klas van 2025 sterkte toe
# En AfriForum vra vir boetes vir onwettige mynbou naby die Krugerwildtuin
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê adjunkpresident Paul Mashatile het geen regstreekse of onregstreekse finansiële belang in Sizekhaya Holdings nie. Dit is die konsortium wat die lisensie gekry het om Suid-Afrika se nasionale lotery te bedryf. Ithuba Lottery, ‘n verloorder-bieër, het ‘n hofinterdik ingedien om die toekenning van die lisensie te stop. Ithuba beweer Mashatile het ‘n onregstreekse belang in Sizekhaya omdat sy skoonsuster, Khumo Bogatsu, ‘n mede-eienaar is van Bellamont Gambling, ‘n aandeelhouer van Sizekhaya. In ‘n opponerende beëdigde verklaring sê Tau bewerings van politieke verbintenisse is hoorsê.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sal vandag voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn om sy kant te stel in die voortgesette ondersoek na korrupsie in die strafregstelsel. Hy sal na verwagting oor ‘n tydperk van twee dae getuig en parlementslede se vrae beantwoord. Mchunu is met spesiale verlof oor beweerde bande met sakemanne Vusimuzi “Cat” Matlala en Katiso “KT” Molefe, maar hy ontken dat hy by die ondersoeke ingemeng of georganiseerde misdaadsindikate beskerm het.
# Umalusi het sy beste wense aan die matriekklas van 2025 oorgedra terwyl meer as ‘n miljoen kandidate voorberei om hul eindeksamen af te lê. Die Nasionale Senior Sertifikaat-eindeksamen begin Dinsdag. Umalusi se uitvoerende hoof, Mafu Rakometsi, sê die uitslae sal in Januarie bekend gemaak word, met sertifikate wat binne drie maande na goedkeuring uitgegee sal word. Hy sê dit sal die integriteit van die beoordelings-proses handhaaf:
# AfriForum het owerhede versoek om diegene wat verantwoordelik is vir onwettige mynbou naby die Krugerwildtuin te beboet. Die burgerregtegroep sê die ongemagtigde boorwerk op grond van die Tenbosch-, Turfbelt- en Tecklenburg Ranch het reeds ernstige omgewingskade veroorsaak. Lambert de Klerk van AfriForum eis dat die regering binne 30 dae moet optree om omgewingswette af te dwing of regstappe sal ingestel word:
# Die Keniaanse president, William Ruto, het Kabinetsekretaris, Musalia Mudavadi, na Indië gestuur om toesig te hou oor die repatriasie van voormalige eerste minister Raila Odinga se liggaam, ná sy dood Woensdag in Kochi. Ruto sê Indië sal op Kenia se versoek met die proses help. Die afvaardiging sluit verskeie kabinetsekretarisse en van Odinga se familielede in. Ruto het sewe dae van nasionale rou verklaar en aangekondig dat Odinga ‘n volle staatsbegrafnis sal ontvang:
# Krieket: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, het hul nederlaag van 93 lopies teen Pakistan in die eerste toets in Lahore toegeskryf aan die toporde-kolwers se onvermoë om mededingende tellings te behaal. Suid-Afrika is in sy tweede beurt vir 183 uitgeboul na ‘n eerstebeurt-agterstand van 109. Tony de Zorzi se 104 en Ryan Rickelton se 71 was die enigste hoogtepunte, terwyl die draaibouler Senuran Muthusamy se 11 paaltjies uitgekanselleer is. Markram verwag dieselfde omstandighede in die tweede toets in Rawalpindi en sê hyself en die ander kolwers sal moet verbeter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-940-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-211-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….